Shabbat Shalom!
Balak / Een Wat Verwoes
- hierdie week se Torah lees.


Numeri 22:2-25:9;

22

2 Toe Balak, die seun van Sippor, sien alles wat Israel die Amoriete aangedoen het,
3 het Moab baie bang geword vir die volk, want hulle was talryk; en Moab het beangs geword vanweë die kinders van Israel.
4 Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ‘n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak, die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab.
5 Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my.
6 Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.
7 Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel.
8 Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring soos YAHUVEH aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly.
9 En ELOHIM het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou?
10 En Bíleam het ELOHIM geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, laat my weet:
11 Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe.
12 Toe sê ELOHIM vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.
13 Toe staan Bíleam die môre op, en hy sê aan die vorste van Balak: Gaan na julle land, want YAHUVEH het geweier om my saam met julle te laat gaan.
14 En die vorste van Moab het klaargemaak en by Balak gekom en gesê: Bíleam het geweier om saam met ons te gaan.
15 Daarop stuur Balak nog weer vorste wat meer en aansienliker was as die ander;
16 en hulle het by Bíleam gekom en aan hom gesê: So spreek Balak, die seun van Sippor: Laat jou tog nie terughou om na my te kom nie.
17 Want ek sal jou baie hoog vereer en alles wat jy my sê, sal ek doen; daarom kom tog, vervloek hierdie volk vir my.
18 Toe antwoord Bíleam en sê aan die dienaars van Balak: Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van YAHUVEH my ELOHIM nie oortree om klein of groot te doen nie.
19 Nou dan, bly julle tog ook vannag hier, dat ek mag weet wat YAHUVEH verder aan my sal sê.
20 En ELOHIM het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat EK jou sê, dit moet jy doen.
21 Toe maak Bíleam die môre klaar en saal sy eselin op, en hy het weggetrek saam met die vorste van Moab.
22 Maar die toorn van ELOHIM het ontvlam, omdat hy weggetrek het; en die Engel van YAHUVEH het gaan staan in die pad as sy teëparty, terwyl hy op sy esel ry en sy twee dienaars by hom was.
23 En die esel het die Engel van YAHUVEH in die pad sien staan, met sy ontblote swaard in sy hand; daarom het die esel uit die pad uitgedraai en die veld ingeloop. Maar Bíleam het die esel geslaan om haar na die pad te stuur.
24 Daarop gaan die Engel van YAHUVEH in ‘n hol pad tussen die wingerde staan—’n muur duskant en ‘n muur anderkant.
25 En toe die esel die Engel van YAHUVEH sien, druk sy haarself teen die muur en druk ook Bíleam se voet teen die muur; daarom het hy haar weer geslaan.
26 En die Engel van YAHUVEH het weer verder gegaan en bly staan op ‘n nou plek waar geen pad was om regs of links uit te draai nie.
27 Toe die esel die Engel van YAHUVEH sien, gaan sy onder Bíleam lê. Daarop het Bíleam baie kwaad geword en die esel met ‘n stok geslaan.
28 Maar YAHUVEH het die bek van die esel geopen, en sy sê vir Bíleam: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het?
29 Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ‘n swaard in my hand—dan het ek jou sekerlik doodgeslaan.
30 En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee.
31 Toe open YAHUVWEH die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van YAHUVEH in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy aangesig neergeval.
32 En die Engel van YAHUVEH vra hom: Waarom het jy jou esel nou al drie maal geslaan? Kyk, EK self het uitgegaan as ‘n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in MY oog!
33 Maar die esel het MY gesien en nou al drie maal voor MY uitgedraai. As sy nie voor MY uitgedraai het nie—dan het EK jou alte seker gedood en haar laat lewe.
34 Toe antwoord Bíleam die Engel van YAHUVEH: Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is in U oë, sal ek teruggaan.
35 En die Engel van YAHUVEH sê vir Bíleam: Gaan saam met die manne, maar net die woord wat EK jou sê, dit moet jy spreek. So het Bíleam dan met die vorste van Balak saamgegaan.
36 Toe Balak hoor dat Bíleam kom, het hy uitgetrek hom tegemoet na Ir-Moab wat by die grens van die Arnon lê, by die uiteinde van die grondgebied.
37 En Balak sê vir Bíleam: Het ek nie herhaaldelik na jou gestuur om jou te laat roep nie? Waarom het jy nie na my gekom nie? Is ek werklik nie in staat om jou te vereer nie?
38 En Bíleam het Balak geantwoord: Hier het ek na jou gekom. Is ek nou wel in staat om iets te spreek? Die woord wat ELOHIM in my mond lê, dit sal ek spreek.
39 Bíleam het toe saam met Balak gegaan, en hulle het by Kirjat-Husot gekom.
40 En Balak het beeste en kleinvee geoffer en daarvan aan Bíleam gestuur en aan die vorste wat by hom was.
41 En in die môre het Balak Bíleam geneem en hom op die hoogtes van Baäl laat opklim vanwaar hy die kant van die volk kon sien.

*~ Numeri Hoofstuk 23 ~*


1 Toe sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme.
2 En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het; en Balak en Bíleam het ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.
3 Daarop sê Bíleam vir Balak: Bly by jou brandoffer staan, en ek sal heengaan; miskien sal YAHUVEH my tegemoetkom, en wat HY my ook al laat sien, sal ek jou bekend maak. En hy het na ‘n kaal heuwel gegaan.
4 En ELOHIM het Bíleam tegemoetgekom, en hy het vir HOM gesê: Sewe altare het ek reggemaak en ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.
5 Toe lê YAHUVEH ‘n woord in Bíleam se mond en sê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.
6 En hy het na hom teruggegaan terwyl hy daar staan by sy brandoffer, hy en al die vorste van Moab.
7 En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab—uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel.
8 Hoe sal ek vloek wie ELOHIM nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie YAHUVEH nie verwens nie?
9 Want van die top van die rotse af sien ek hom, en van die heuwels af aanskou ek hom. Kyk, ‘n volk wat afgesonderd woon en hom nie tot die nasies reken nie.
10 Wie het die stof van Jakob getel? En wie, volgens getal, die vierde deel van Israel? Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne wees!
11 Toe sê Balak vir Bíleam: Wat het jy my aangedoen? Ek het jou laat haal om my vyande te vloek, en kyk, jy het net geseën!
12 En hy antwoord daarop dít: Moet ek dan nie sorgvuldig alles spreek wat YAHUVEH in my mond lê nie?
13 Daarop sê Balak vir hom: Kom tog saam met my na ‘n ander plek vanwaar jy hom kan sien—net sy kant sal jy sien, maar heeltemal kan jy hom nie sien nie—en vervloek hom daarvandaan vir my.
14 En hy het hom saamgeneem na die Veld van die Wagte, op die top van Pisga, en sewe altare gebou en ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.
15 Toe sê hy vir Balak: Bly hier staan by jou brandoffer, en ek sal daar op ‘n ontmoeting wag.
16 En YAHUVEH het Bíleam ontmoet en ‘n woord in sy mond gelê en gesê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.
17 En hy het by hom gekom terwyl hy daar staan by sy brandoffer, en die vorste van Moab by hom. En Balak sê vir hom: Wat het YAHUVEH gespreek?
18 Toe hef hy sy spreuk aan en sê: Staan op Balak, en hoor! Luister na my, seun van Sippor!
19 ELOHIM is geen man dat HY sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit HOM sou berou nie. Sou HY iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?
20 Kyk, ek het ontvang om te seën; en het HY geseën, dan kan ek dit nie keer nie.
21 ‘n Mens aanskou geen ongeregtigheid in Jakob en sien geen onheil in Israel nie. YAHUVEH sy ELOHIM is met hom, en die gejubel tot eer van die Koning is by hom.
22 ELOHIM wat hulle uit Egipte uitgelei het, is vir hulle soos die horings van ‘n buffel.
23 Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie. Nou sal van Jakob en van Israel gesê word wat ELOHIM gedoen het.
24 Kyk, ‘n volk wat opstaan soos ‘n leeuin, en soos ‘n leeu verhef hy hom. Hy gaan nie lê voordat hy roof eet en die bloed van die wat verslaan is, drink nie.
25 Toe sê Balak vir Bíleam: Jy moet hulle glad nie vloek nie, en jy moet hulle glad nie seën nie.
26 Maar Bíleam antwoord en sê vir Balak: Het ek nie dit met jou gespreek nie: Alles wat YAHUVEH spreek, dit sal ek doen?
27 Verder sê Balak vir Bíleam: Kom tog, ek sal jou na ‘n ander plek saamneem; miskien sal dit reg wees in die oë van ELOHIM dat jy hulle vir my daarvandaan vervloek.
28 Toe neem Balak Bíleam saam na die top van Peor wat oor die wildernis afkyk.
29 Daarop sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare, en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme.
30 En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het en ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.

*~ Numeri Hoofstuk 24 ~*


1 Toe Bíleam sien dat dit goed was in die oë van YAHUVEH om Israel te seën, het hy hom nie soos die vorige kere tot towery gewend nie, maar sy gesig na die woestyn gedraai.
2 Toe Bíleam sy oë opslaan en Israel sien soos hy volgens sy stamme in die laer staan, het die Gees van ELOHIM op hom gekom.
3 En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek.
4 Die hoorder van die woorde van ELOHIM spreek, hy wat die gesigte van die Almagtige sien, wat neerval en geopende oë het.
5 Hoe mooi is jou tente, o Jakob, jou wonings, o Israel!
6 Soos dale met waterlope wat hulle ver uitstrek, soos tuine by ‘n rivier, soos alewees wat YAHUVEH geplant het, soos seders by die water.
7 Water vloei uit sy emmers, en sy saad is by baie waters. En laat sy koning hoër wees as Agag, en sy koninkryk hom verhef!
8 ELOHIM wat hom uit Egipte uitgelei het, is vir hom soos die horings van ‘n buffel; HY sal nasies, SY vyande, verteer en hulle gebeente stukkend breek en met SY pyle verbrysel.
9 Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin: wie sal hom opjaag? Geseënd is hulle wat jou seën, en vervloek is hulle wat jou vervloek!
10 Toe het Balak baie kwaad geword vir Bíleam en sy hande saamgeslaan, en Balak het aan Bíleam gesê: Ek het jou laat roep om my vyande te vloek, en kyk, jy het nou al drie maal net geseën!
11 Trek dan nou gou na jou woonplek! Ek het gesê dat ek jou hoog sal vereer; maar kyk, YAHUVEH het jou van verering teruggehou.
12 Toe het Bíleam vir Balak gesê: Het ek nie alreeds met jou boodskappers wat jy na my gestuur het, gespreek en gesê nie:
13 Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van YAHUVEH nie oortree om goed of kwaad uit my eie hart te doen nie; wat YAHUVEH spreek, dit sal ek spreek.
14 En nou, kyk, ek gaan na my volk toe. Kom, ek sal jou inligting gee, wat hierdie volk jou volk sal aandoen aan die einde van die dae.
15 Toe het hy sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek.
16 Die hoorder van die woorde van ELOHIM spreek, en hy wat die wetenskap van die Allerhoogste ken, wat die gesigte van die Almagtige sien wat neerval en geopende oë het.
17 Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver.
18 Ook sal Edom ‘n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal ‘n besitting wees, maar Israel neem toe in krag.
19 En laat daar een uit Jakob heers en die vrygeraaktes uit die stede vernietig.
20 Toe hy Amalek sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Amalek is die eersteling van die heidene, maar sy einde is ondergang.
21 Toe hy die Keniete sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Jou woonplek is vas, en jou nes is gebou op die rots.
22 Ewenwel sal Kain tot verwoesting wees. Hoe lank nog? Assur sal jou as gevangene wegvoer.
23 Verder het hy sy spreuk aangehef en gesê: Wee, wie sal lewe as ELOHIM dít beskik?
24 En skepe kom van die kant van die Kittiërs af, en hulle verneder Assur en hulle verneder Heber; en hy is ook tot ondergang bestem.
25 Toe het Bíleam hom klaargemaak en weggetrek en na sy woonplek teruggekeer. En Balak het ook sy koers gegaan.

*~ Numeri Hoofstuk 25 ~*


1 Toe Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete—
2 dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode.
3 So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van YAHUVEH het teen Israel ontvlam.
4 Toe sê YAHUVEH vir Moses: Neem al die hoofde van die volk en hang die oortreders op in die volle son vir YAHUVEH, sodat die toorngloed van YAHUVEH van Israel afgewend kan word.
5 Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood wat hulle aan Baäl-Peor gekoppel het.
6 En daar het ‘n man gekom, een uit die kinders van Israel, en ‘n Midianitiese vrou na sy volksgenote gebring, voor die oë van Moses en voor die oë van die hele vergadering van die kinders van Israel, terwyl hulle ween by die ingang van die Tent van Samekoms.
7 Toe Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, dit sien, het hy uit die vergadering uit opgestaan en ‘n spies in sy hand geneem
8 en agter die Israelitiese man aan gegaan in die tent en hulle twee deurboor, die Israelitiese man en die vrou, in haar onderlyf. Daarna het die plaag onder die kinders van Israel opgehou.
9 En die wat deur die plaag gesterf het, was vier en twintig duisend.