26
1 En as jy in die land kom wat YAHUVEH jou ELOHIM jou as erfenis sal gee en
jy dit in besit neem en daarin woon,
2 dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy
inbring uit jou land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee, en dit in ‘n mandjie
sit; en jy moet gaan na die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies om sy Naam
daar te laat woon (Jerusalem),
3 en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek
verklaar vandag aan YAHUVEH jou ELOHIM dat ek in die land gekom het wat YAHUVEH
aan ons vaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee.
4 En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van
YAHUVEH jou ELOHIM neersit.
5 Dan moet jy voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM verklaar en sê: My vader
was ‘n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling
vertoef met min mense; maar hy het daar ‘n groot, magtige en talryke nasie
geword.
6 Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ‘n harde diens op ons
gelê.
7 Toe het ons YAHUVEH, die ELOHIM van ons vaders, aangeroep; en YAHUVEH het ons
stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;
8 en YAHUVEH het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte
arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders;
9 en HY het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat
oorloop van melk en heuning.
10 Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat
U, YAHUVEH, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van YAHUVEH
jou ELOHIM en jou neerbuig voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM.
11 En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat YAHUVEH jou ELOHIM jou en
jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is.
12 As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar,
die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees
en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word.
13 En jy moet voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM sê: Ek het die heilige
goed uit die huis weggebring en dit ook aan die Leviet en die vreemdeling, die
wees en die weduwee gegee, geheel en al volgens u gebod wat U my beveel het; ek
het geeneen van U gebooie oortree of vergeet nie.
14 Ek het daarvan in my rou nie geëet en daarvan as ‘n onreine niks weggebring
en daarvan aan ‘n dooie niks gegee nie; ek het na die stem van YAHUVEH my ELOHIM
geluister; ek het gedoen net soos U my beveel het.
15 Kyk tog uit U Heilige Woning, uit die Hemel, neer en seën U volk Israel en
die land wat U ons gegee het, soos U aan ons vaders met ‘n eed beloof het, ‘n
land wat oorloop van melk en heuning.
16 Vandag beveel YAHUVEH jou ELOHIM jou om hierdie insettinge en verordeninge na
te kom; onderhou dan en doen dit met jou hele hart en met jou hele siel.
17 Vandag het jy YAHUVEH laat verklaar dat HY vir jou ‘n ELOHIM sal wees, en dat
jy in SY weë moet wandel en SY insettinge en SY gebooie en SY verordeninge moet
hou en na SY stem moet luister.
18 En YAHUVEH het jou vandag laat verklaar dat jy vir HOM ‘n eiendomsvolk sal
wees soos HY jou beloof het, en dat jy al SY gebooie sal onderhou;
19 en dat HY jou dan die hoogste sal stel bo al die nasies wat HY gemaak het,
tot ‘n lof en ‘n roem en ‘n sieraad, en dat jy ‘n heilige volk aan YAHUVEH jou
ELOHIM sal wees soos HY beloof het.
*~ Deuteronomium Hoofstuk 27 ~*
1 En Moses het saam met die oudstes van Israel aan die volk bevel gegee en gesê:
Onderhou al die gebooie wat ek julle vandag beveel.
2 En die dag as julle deur die Jordaan gaan in die land wat YAHUVEH jou ELOHIM
jou sal gee, moet jy vir jou groot klippe oprig en dit met kalk bestryk.
3 En jy moet as jy oortrek daarop skrywe al die Woorde van hierdie Wet (Torah),
sodat jy kan kom in die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee, ‘n land wat
oorloop van melk en heuning, soos YAHUVEH, die ELOHIM van jou vaders, jou beloof
het.
4 As julle dan deur die Jordaan trek, moet julle hierdie klippe waaromtrent ek
julle vandag bevel gee, op die berg Ebal oprig, en jy moet dit met kalk bestryk.
5 En jy moet daar vir YAHUVEH jou ELOHIM ‘n altaar bou, ‘n altaar van klippe; jy
mag geen yster daaroor swaai nie.
6 Van ongekapte klippe moet jy die altaar van YAHUVEH jou ELOHIM bou; en jy moet
daarop brandoffers bring aan YAHUVEH jou ELOHIM.
7 Ook moet jy dankoffers slag en daar eet en vrolik wees voor die aangesig van
YAHUVEH jou ELOHIM.
8 En jy moet op die klippe baie duidelik skrywe al die Woorde van hierdie Wet
(Torah).
9 Verder het Moses en die Levitiese priesters die hele Israel toegespreek en
gesê: Wees stil en luister, o Israel! Vandag het jy die volk van YAHUVEH jou
ELOHIM geword.
10 Daarom moet jy na die stem van YAHUVEH jou ELOHIM luister en SY gebooie en SY
insettinge volbring wat ek jou vandag beveel.
11 En Moses het aan die volk op dié dag bevel gegee en gesê:
12 Hierdie stamme moet staan om die volk te seën op die berg Gerísim as julle
deur die Jordaan getrek het: Símeon en Levi en Juda en Issaskar en Josef en
Benjamin.
13 En hierdie moet staan om te vervloek op die berg Ebal: Ruben, Gad en Aser en
Sébulon, Dan en Náftali.
14 En die Leviete moet verklaar en aan al die manne van Israel hardop sê:
15 Vervloek is die man wat ‘n gesnede of gegote beeld maak, ‘n gruwel vir
YAHUVEH, werk van ‘n ambagsman se hande, en dit in die geheim opstel; en die
hele volk moet antwoord en sê: Amen.
16 Vervloek is hy wat sy vader of sy moeder verag; en die hele volk moet sê:
Amen.
17 Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê; en die hele volk moet sê:
Amen.
18 Vervloek is hy wat ‘n blinde op die dwaalweg lei; en die hele volk moet sê:
Amen.
19 Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai; en die
hele volk moet sê: Amen.
20 Vervloek is hy wat met die vrou van sy vader gemeenskap het, want hy het die
kombers van sy vader opgelig; en die hele volk moet sê: Amen.
21 Vervloek is hy wat met enige dier gemeenskap het; en die hele volk moet sê:
Amen.
22 Vervloek is hy wat met sy suster, die dogter van sy vader of die dogter van
sy moeder, gemeenskap het; en die hele volk moet sê: Amen.
23 Vervloek is hy wat met sy skoonmoeder gemeenskap het; en die hele volk moet
sê: Amen.
24 Vervloek is hy wat sy naaste in die geheim doodslaan; en die hele volk moet
sê: Amen.
25 Vervloek is hy wat ‘n omkoopgeskenk aanneem om ‘n persoon—onskuldige
bloed—dood te slaan; en die hele volk moet sê: Amen.
26 Vervloek is hy wat die woorde van hierdie wet nie hou om dit te doen nie; en
die hele volk moet sê: Amen.
*~ Deuteronomium Hoofstuk 28 ~*
1 As jy dan goed luister na die stem van YAHUVEH jou ELOHIM om sorgvuldig te hou
al SY gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal YAHUVEH jou ELOHIM jou die
hoogste stel bo al die nasies van die aarde.
2 En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem
van YAHUVEH jou ELOHIM.
3 Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld.
4 Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die
vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.
5 Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel.
6 Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang.
7 YAHUVEH sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word;
op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug.
8 YAHUVEH sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand
aan slaan; en HY sal jou seën in die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee.
9 YAHUVEH sal jou vir HOM as heilige volk bevestig soos HY jou dit gesweer het,
as jy die gebooie van YAHUVEH jou ELOHIM hou en in SY weë wandel.
10 En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van YAHUVEH oor jou
uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees.
11 En YAHUVEH sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam
en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat
YAHUVEH aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee.
12 YAHUVEH sal SY goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van
jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy
sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie.
13 En YAHUVEH sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe
en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van YAHUVEH jou ELOHIM wat
ek jou vandag beveel om te hou en te doen,
14 en jy nie regs of links afwyk van al die Woorde wat ek julle vandag beveel,
om agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie.
15 Maar as jy nie luister na die stem van ELOHIM, om sorgvuldig te hou al SY
gebooie en SY insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke
oor jou kom en jou inhaal.
16 Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld.
17 Vervloek sal wees jou mandjie en jou bakskottel.
18 Vervloek sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land, die
aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.
19 Vervloek sal jy wees by jou ingang, en vervloek sal jy wees by jou uitgang.
20 YAHUVEH sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging
in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en
totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy MY
verlaat het.
21 YAHUVEH sal maak dat die pes jou aankleef totdat HY jou vernietig uit die
land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
22 YAHUVEH sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking
en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy
omkom.
23 En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is,
yster wees.
24 YAHUVEH sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit
op jou afkom totdat jy verdelg is.
25 YAHUVEH sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word; op een pad sal jy teen
hom uittrek en op sewe paaie sal jy voor hom uit vlug—en jy sal ‘n skrikbeeld
vir al die koninkryke van die aarde word.
26 En jou lyke sal as voedsel dien vir al die voëls van die hemel en vir die
diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak.
27 YAHUVEH sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en
uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie.
28 YAHUVEH sal jou slaan met kranksinnigheid en blindheid en sinsverwarring,
29 sodat jy op die middag sal rondtas soos die blinde in die donker rondtas, en
in jou weë sal jy geen voorspoed hê nie; maar jy sal altyddeur net verdruk en
beroof wees sonder dat daar ‘n helper is.
30 Jy sal jou met ‘n vrou verloof, maar ‘n ander man sal haar skend; ‘n huis sal
jy bou, maar daarin nie woon nie; ‘n wingerd plant, maar dit nie in gebruik neem
nie.
31 Jou bees word voor jou oë geslag, maar jy sal daarvan nie eet nie; jou esel
word voor jou weggeroof en sal na jou nie terugkom nie; jou kleinvee word aan
jou vyande gegee sonder dat daar vir jou ‘n helper is.
32 Jou seuns en jou dogters word aan ‘n ander volk gegee, terwyl jou oë dit sien
en die hele dag na hulle smag sonder dat jy daar iets aan kan doen.
33 Die vrugte van jou land en al jou werk sal ‘n volk eet wat jy nie ken nie; en
jy sal altyddeur net verdruk en hard behandel word.
34 En jy sal kranksinnig wees vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien.
35 YAHUVEH sal jou tref met bose swere aan die knieë en aan die bene—waarvan jy
nie gesond kan word nie—van jou voetsool tot jou skedel.
36 YAHUVEH sal jou en jou koning wat jy oor jou sal aanstel, na ‘n nasie laat
gaan wat jy en jou vaders nie geken het nie; en daar sal jy ander gode, hout en
klip, dien.
37 En jy sal ‘n voorwerp van verbasing, ‘n spreekwoord en ‘n spot wees onder al
die volke waarheen YAHUVEH jou sal wegvoer.
38 Jy sal baie saad op die land uitbring, maar min insamel; want die sprinkaan
sal dit afeet.
39 Wingerde sal jy plant en bewerk maar geen wyn drink of wegbêre nie; want die
wurm sal dit opeet.
40 Olyfbome sal jy hê in jou hele grondgebied, maar jy sal jou nie met olie salf
nie; want jou olywe sal afval.
41 Seuns en dogters sal jy verwek, maar hulle sal vir jou nie wees nie; want
hulle sal in gevangenskap gaan.
42 Al jou bome en die vrugte van jou land sal die sprinkaan in besit neem.
43 Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jy sal
laer en laer afsak.
44 Hy sal aan jou leen, maar jy sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy
die stert wees.
45 En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy
verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van YAHUVEH jou ELOHIM om SY
gebooie en SY insettinge wat HY jou beveel het, te hou nie;
46 en hulle sal by jou ‘n teken en ‘n wonder wees, en by jou nageslag tot in
ewigheid.
47 Omdat jy YAHUVEH jou ELOHIM nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die
oorvloed van alles gedien het nie,
48 sal jy jou vyand wat YAHUVEH teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en
in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ‘n ysterjuk op jou nek sit totdat
hy jou verdelg het.
49 YAHUVEH sal teen jou ‘n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af,
soos ‘n arend vlieg—’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,
50 ‘n nasie hard van aangesig, wat ‘n grysaard nie ontsien en vir ‘n seun geen
genade het nie.
51 En hulle sal die vrug van jou vee en die vrugte van jou land opeet totdat jy
verdelg is; wat vir jou geen koring, mos of olie, aanteel van jou beeste of
aanteel van jou kleinvee sal laat oorbly totdat hulle jou tot niet gemaak het
nie.
52 En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en
versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; ja, hulle sal jou in
benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou
gegee het.
53 En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou
dogters wat YAHUVEH jou ELOHIM jou gegee het, in die beleëring en in die
benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak.
54 Die vertroetelde en baie verwénde man by jou—sy oog sal sy broer en die vrou
wat hy liefhet, en sy orige kinders wat hy nog behou het, skeef aankyk;
55 sodat hy aan geeneen van hulle iets sal gee van die vlees van sy kinders wat
hy eet nie, omdat daar vir hom niks anders oorgelaat is in die beleëring en in
die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak nie.
56 Die vertroetelde en verwénde vrou by jou wat van verwendheid en weekheid
nooit probeer het om haar voetsool op die grond neer te sit nie—haar oog sal die
man wat sy liefhet en haar seun en haar dogter skeef aankyk,
57 ook haar nageboorte wat tussen haar voete uitgaan, en haar kinders wat sy sal
baar; want sy sal dit stilletjies eet by gebrek aan alles in die beleëring en in
die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak.
58 As jy nie sorgvuldig al die Woorde van hierdie Wet (Torah) hou wat in hierdie
boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, YAHUVEH jou ELOHIM, te
vrees nie,
59 dan sal YAHUVEH oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en
aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes;
60 en HY sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was,
sodat hulle jou aanklewe.
61 Ook allerhande siektes en allerhande plae wat in die boek van hierdie Wet
(Torah) nie geskrywe is nie, dié sal YAHUVEH teen jou laat opkom totdat jy
verdelg is.
62 En julle sal met min mense oorbly, in plaas dat julle gewees het soos die
sterre van die hemel in menigte, omdat jy nie geluister het na die stem van
YAHUVEH jou ELOHIM nie.
63 En soos YAHUVEH oor julle bly was om aan julle goed te doen en julle te
vermenigvuldig, so sal YAHUVEH oor julle bly wees om julle tot niet te maak en
julle te verdelg; en julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om
dit in besit te neem.
64 En YAHUVEH sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die
aarde tot by die ander einde van die aarde; en daar sal jy ander gode, hout en
klip, dien, wat jy en jou vaders nie geken het nie.
65 En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie, en vir jou voetsool sal daar geen
rusplek wees nie; maar YAHUVEH sal jou daar ‘n bewende hart gee en smagtende oë
en ‘n kwynende siel.
66 En jou lewe sal voor jou aan ‘n draad hang, en jy sal nag en dag skrik en van
jou lewe nie seker wees nie.
67 In die môre sal jy sê: Ag, was dit maar aand! En in die aand sal jy sê: Ag,
was dit maar môre! —vanweë die skrik van jou hart wat jou sal aangryp, en vanweë
die gesig van jou oë wat jy sal sien.
68 En YAHUVEH sal jou op skepe na Egipte terugbring, op die pad waarvan ek vir
jou gesê het: Jy sal dit verder nie meer sien nie; en daar sal julle aan jul
vyande as slawe en slavinne verkoop word, maar daar sal geen koper wees nie.
*~ Deuteronomium Hoofstuk 29 ~*
1 Dit is die Woorde van die verbond wat YAHUVEH Moses beveel het om met die
kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat HY met
hulle by Horeb gesluit het.
2 En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien
alles wat YAHUVEH in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en
aan sy hele land gedoen het,
3 die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders.
4 Maar YAHUVEH het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en
ore om te hoor tot vandag toe nie.
5 En EK het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het
aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet.
6 Brood het julle nie geëet en wyn en sterk drank nie gedrink nie, dat julle kan
weet dat EK YAHUVEH julle ELOHIM is.
7 En toe julle by hierdie plek kom, het Sihon, die koning van Hesbon, en Og, die
koning van Basan, uitgetrek ons tegemoet om te veg, maar ons het hulle verslaan
8 en hulle land ingeneem en dit as erfenis gegee aan die Rubeniete en Gadiete en
aan die halwe stam van die Manassiete.