Shabbat Shalom!
Vayeshev / En Hy Het Gelewe
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Amos 2:6-3:8

2

6 So sê YAHUVEH: Oor drie oortredinge van Israel, ja, oor vier, sal EK dit nie afwend nie; omdat hulle die regverdige vir geld verkoop het en die behoeftige vir ‘n paar skoene.
7 Hulle wat daarna hyg dat die stof van die aarde op die hoof van die armes kom, en wat die weg van die ellendiges buig; en die man en sy vader gaan na dieselfde jongedogter om MY heilige Naam te ontheilig.
8 En hulle strek hul uit op verpande klere by elke altaar, en die wyn van die wat beboet is, drink hulle in die huis van hul ELOHIM.
9 En tog het ÉK die Amoriet voor hulle uit verdelg wie se hoogte was soos die hoogte van die seders, en hy was sterk soos die eikebome; maar EK het sy vrug daarbo en sy wortels daaronder verdelg.
10 Ook het EK julle uit Egipteland laat optrek en julle veertig jaar lank in die woestyn gelei, om die land van die Amoriet in besit te neem.
11 En EK het uit julle seuns profete en uit julle jongelinge nasireërs verwek. Is dit nie so nie, o kinders van Israel? spreek YAHUVEH.
12 Maar julle het die nasireërs wyn laat drink en aan die profete bevel gegee en gesê: Julle mag nie profeteer nie!
13 Kyk, EK laat dit onder julle kraak, soos ‘n wa kraak wat vol gerwe is;
14 sodat die wat gou is, nie kan ontvlug nie, en die sterke sy krag nie kan ontwikkel en die held sy lewe nie kan red nie.
15 En die boogskutter sal nie bly staan en die wat gou is op sy voete, nie vrykom nie, en die perderuiter sal sy lewe nie red nie.
16 En die dapperste onder die helde sal op dié dag naak wegvlug, spreek YAHUVEH.

*~ Amos Hoofstuk 3 ~*


1 Hoor hierdie Woord wat YAHUVEH oor julle gespreek het, o kinders van Israel, oor die hele geslag wat EK uit Egipteland laat optrek het, naamlik:
2 Julle alleen het EK geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal EK by julle besoeking doen oor al julle ongeregtighede.
3 Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?
4 Sal ‘n leeu brul in die woud as hy geen prooi het nie? Sal ‘n jong leeu sy stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie?
5 Sal ‘n voël in ‘n net val op die grond as daar vir hom geen strik gestel is nie? Sal ‘n wip van die grond af opspring as dit glad nie gevang het nie?
6 Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as YAHUVEH dit nie bewerk het nie?
7 Want die Here YAHUVEH doen niks tensy HY SY raadsbesluit aan SY knegte, die profete, geopenbaar het nie.
8 Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here YAHUVEH het gespreek, wie sal nie profeteer nie?

Mattheus 1:18-25

18 Die geboorte van YAHUSHUA Messias was dan só: Toe SY moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.
19 En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei.
20 Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ‘n Engel van YAHUVEH in ‘n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;
21 en sy sal ‘n seun baar, en jy moet HOM YAHUSHUA noem, want dit is HY wat SY volk van hulle sondes sal verlos.
22 En dit het alles gebeur, sodat die Woord vervul sou word wat YAHUVEH deur die profeet gespreek het:
23 Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal HOM Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: ELOHIM met ons. (Jes 7:14)
24 En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van YAHUVEH hom beveel het en sy vrou by hom geneem;
25 en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het HOM YAHUSHUA genoem.