Shabbat Shalom!
Behaalotecha / Wanneer Jy Opstaan
- hierdie week se Torah lees.


Numeri 8:1-12:16;

8

1 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met Aäron en sê vir hom: As jy die lampe opsteek, moet die sewe lampe aan die voorkant van die kandelaar lig gee.
3 En Aäron het so gedoen: aan die voorkant van die kandelaar het hy dié lampe opgesteek soos YAHUVEH Moses beveel het.
4 En dit was die maaksel van die kandelaar: dryfwerk uit goud; selfs sy voetstuk en sy blomme was dryfwerk; volgens die beeltenis wat YAHUVEH aan Moses getoon het, so het hy die kandelaar gemaak.
5 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
6 Neem die Leviete onder die kinders van Israel uit en reinig hulle.
7 En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ‘n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig.
8 Daarna moet hulle ‘n jong bul neem en die spysoffer wat daarby behoort: fynmeel met olie gemeng; en ‘n ander jong bul moet jy as sondoffer neem.
9 En jy moet die Leviete voor die Tent van Samekoms laat nader kom en die hele vergadering van die kinders van Israel versamel.
10 Dan moet jy die Leviete voor die aangesig van YAHUVEH laat nader kom, en die kinders van Israel moet hulle hande op die Leviete lê.
11 En Aäron moet die Leviete as beweegoffer beweeg voor die aangesig van YAHUVEH namens die kinders van Israel, sodat hulle daar kan wees om die dienswerk van YAHUVEH te verrig.
12 En die Leviete moet hulle hande op die kop van die bulle lê; en berei jy een as sondoffer en een as brandoffer vir YAHUVEH, om vir die Leviete versoening te doen.
13 Dan moet jy die Leviete stel voor Aäron en sy seuns en hulle as beweegoffer aan YAHUVEH beweeg.
14 En jy moet die Leviete onder die kinders van Israel uit afsonder, dat die Leviete myne kan wees.
15 En daarna moet die Leviete inkom om die Tent van Samekoms te bedien. So moet jy hulle dan reinig en hulle as beweegoffer beweeg.
16 Want hulle is heeltemal aan My gegee onder die kinders van Israel uit, in die plek van alles wat die moederskoot open—al die eersgeborenes uit die kinders van Israel—het EK hulle vir MY geneem.
17 Want al die eersgeborenes onder die kinders van Israel is MYNE, van mense en van diere; op die dag toe EK al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het EK hulle vir MY geheilig.
18 En EK het die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel geneem
19 en die Leviete gegee—hulle is gegee aan Aäron en sy seuns onder die kinders van Israel uit om die dienswerk van die kinders van Israel in die Tent van Samekoms te verrig en om vir die kinders van Israel versoening te doen, sodat daar geen plaag mag wees onder die kinders van Israel as die kinders van Israel na die Heiligdom aankom nie.
20 En Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel het met die Leviete gedoen net soos YAHUVEH Moses aangaande die Leviete beveel het; so het die kinders van Israel met hulle gedoen.
21 En die Leviete het hulleself ontsondig en hulle klere gewas, en Aäron het hulle beweeg as beweegoffer voor die aangesig van YAHUVEH; en Aäron het versoening vir hulle gedoen om hulle te reinig.
22 En daarna het die Leviete gekom om hulle dienswerk in die Tent van Samekoms voor Aäron en sy seuns te verrig; soos YAHUVEH Moses aangaande die Leviete beveel het, so het hulle met hulle gedoen.
23 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
24 Dit is die saak wat die Leviete betref: Van vyf en twintig jaar oud en daarbo moet hy kom om sy plig te vervul by die dienswerk van die Tent van Samekoms.
25 Maar van vyftig jaar oud moet hy vry wees van diensplig en nie meer dien nie—
26 hy kan sy broers in die Tent van Samekoms behulpsaam wees om die diens waar te neem, maar dienswerk moet hy nie verrig nie. So moet jy met die Leviete doen insake hulle ampspligte.

*~ Numeri Hoofstuk 9 ~*


1 En YAHUVEH het met Moses gespreek in die woestyn Sinai—in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, in die eerste maand—en gesê
2 dat die kinders van Israel die Pasga op die bepaalde tyd moet hou.
3 Op die veertiende dag in hierdie maand, teen die aand, moet julle dit op die bepaalde tyd hou; volgens al sy insettinge en al sy verordeninge moet julle dit hou.
4 Toe het Moses met die kinders van Israel gespreek dat hulle die Pasga moet hou.
5 En hulle het die Pasga gehou op die veertiende dag van die eerste maand, teen die aand, in die woestyn Sinai; net soos YAHUVEH Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen.
6 En daar was manne wat deur die lyk van ‘n mens onrein geword het en op dieselfde dag die Pasga nie kon hou nie. Daarom het hulle nader gekom voor Moses en Aäron op dieselfde dag,
7 en dié manne het vir hom gesê: Ons is onrein deur die lyk van ‘n mens; waarom moet ons te kort gedoen word, dat ons die offer van YAHUVEH nie op die bepaalde tyd onder die kinders van Israel sou bring nie?
8 En Moses het vir hulle gesê: Bly staan, dat ek kan hoor wat YAHUVEH julle sal beveel.
9 Toe het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
10 Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand van julle of van julle geslagte deur ‘n lyk onrein word of op ‘n ver reis is, moet hy tog die Pasga vir YAHUVEH hou.
11 In die tweede maand, op die veertiende dag, teen die aand, moet hulle dit hou; met ongesuurde brode en bitter kruie moet hulle dit eet.
12 Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die Pasga moet hulle dit hou.
13 Maar die man wat rein is en nie op reis is nie en nalaat om die Pasga te hou, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word; want hy het die offer van YAHUVEH nie op die bepaalde tyd gebring nie. Dié man moet sy sonde dra.
14 En as ‘n vreemdeling by julle vertoef en die Pasga vir YAHUVEH hou, moet hy dit hou volgens die insetting van die Pasga en volgens die verordening daarvan. Dit moet een insetting vir julle wees, vir die vreemdeling sowel as die kind van die land.
15 En op die dag toe hulle die Tabernakel opgerig het, het die wolk die Tabernakel van die Tent van die Getuienis oordek, en in die aand was dit oor die Tabernakel soos ‘n gedaante van vuur, tot die môre toe.
16 So was dit altyddeur: die wolk het dit oordek, en snags ‘n gedaante van vuur.
17 En so dikwels as die wolk van die Tent af optrek, het die kinders van Israel daarna weggetrek; en op die plek waar die wolk rus, daar het die kinders van Israel laer opgeslaan—
18 volgens die bevel van YAHUVEH het die kinders van Israel weggetrek en volgens die bevel van YAHUVEH laer opgeslaan; al die dae wat die wolk oor die Tabernakel gerus het, het hulle in die laer gestaan.
19 En as die wolk baie dae oor die tabernakel bly, het die kinders van Israel die diens van YAHUVEH waargeneem en nie weggetrek nie.
20 Maar somtyds was die wolk net ‘n paar dae oor die Tabernakel—volgens die bevel van YAHUVEH het hulle laer opgeslaan, en volgens die bevel van YAHUVEH het hulle weggetrek.
21 En somtyds was die wolk daar van die aand tot die môre—as die wolk in die môre optrek, het hulle weggetrek; of by dag of by nag—as die wolk optrek, het hulle weggetrek;
22 of ná twee dae of ‘n maand of langer—as die wolk lank oor die Tabernakel bly, het die kinders van Israel in die laer gestaan en nie weggetrek nie; en as dit optrek, het hulle weggetrek.
23 Volgens die bevel van YAHUVEH het hulle laer opgeslaan, en volgens die bevel van YAHUVEH het hulle weggetrek. Hulle het die voorskrif van YAHUVEH in ag geneem volgens die bevel van YAHUVEH deur die diens van Moses.

*~ Numeri Hoofstuk 10 ~*


1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Maak vir jou twee silwertrompette; van dryfwerk moet jy dit maak; en hulle moet vir jou dien om die vergadering byeen te roep en om die laers te laat opbreek.
3 As hulle dan daarop blaas, moet die hele vergadering by jou byeenkom by die ingang van die tent van samekoms.
4 Maar as hulle op een daarvan blaas, moet by jou byeenkom die owerstes, die stamhoofde van Israel.
5 En as julle alarm blaas, moet die laers opbreek wat aan die oostekant staan.
6 Maar as julle die tweede keer alarm blaas, moet die laers opbreek wat aan die suidekant staan. Alarm moet hulle blaas as hulle moet opbreek.
7 Maar as die vergadering byeen moet kom, moet julle blaas, maar nie alarm maak nie.
8 En die seuns van Aäron, die priesters, moet op die trompette blaas; en dié trompette moet vir julle ‘n ewige insetting in julle geslagte wees.
9 En as julle in jul land in oorlog kom teen die vyand wat met julle veg, moet julle met die trompette alarm blaas; dan sal aan julle gedink word voor die aangesig van YAHUVEH julle ELOHIM, en julle sal van jul vyande verlos word.
10 Op die dag as julle vrolik is, sowel as op julle feestye en by die begin van julle maande moet julle by jul brandoffers en by jul dankoffers op die trompette blaas: hulle sal dien om julle in gedagtenis te bring voor die aangesig van julle ELOHIM. EK is YAHUVEH julle ELOHIM.
11 In die tweede jaar, in die tweede maand, op die twintigste van die maand, het die wolk opgetrek van die Tabernakel van die Getuienis af.
12 En die kinders van Israel het van plek tot plek weggetrek uit die woestyn Sinai, en die wolk het gaan rus in die woestyn Paran.
13 So het hulle dan die eerste keer weggetrek volgens die bevel van YAHUVEH deur die diens van Moses.
14 En eerste het weggetrek die vaandel van die laer van Juda se kinders volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Nagson, die seun van Ammínadab.
15 En oor die afdeling van die stam van Issaskar se kinders was Netáneël, die seun van Suar.
16 En oor die afdeling van die stam van Sébulon se kinders was Elíab, die seun van Helon.
17 Toe is die tabernakel afgebreek; en die seuns van Gerson en die seuns van Merári, die draers van die tabernakel, het weggetrek.
18 Daarna het weggetrek die vaandel van die laer van Ruben volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Elísur, die seun van Sedéür.
19 En oor die afdeling van die stam van Símeon se kinders was Selúmiël, die seun van Surísaddai.
20 En oor die afdeling van die stam van Gad se kinders was Éljasaf, die seun van Réhuel.
21 Daarna het die Kehatiete, die draers van die heiligdom, weggetrek. En die ander het die tabernakel opgerig voordat hulle aangekom het.
22 Daarna het weggetrek die vaandel van die laer van Efraim se kinders volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Elisáma, die seun van Ammíhud.
23 En oor die afdeling van die stam van Manasse se kinders was Gámliël, die seun van Pedásur.
24 En oor die afdeling van die stam van Benjamin se kinders was Abídan, die seun van Gideóni.
25 Toe het weggetrek die vaandel van die laer van Dan se kinders wat, volgens hulle leërafdelings, die agterhoede vir al die leërs was; en oor sy afdeling was Ahiëser, die seun van Ammísaddai.
26 En oor die afdeling van die stam van Aser se kinders was Págiël, die seun van Ogran.
27 En oor die afdeling van die stam van Náftali se kinders was Ahíra, die seun van Enan.
28 Dit is die optogte van die kinders van Israel volgens hulle leërafdelings. En hulle het weggetrek.
29 En Moses het vir Hobab, die seun van Réhuel, die Midianiet, die swaer van Moses, gesê: Ons trek na die plek waarvan YAHUVEH gesê het: EK sal dit aan julle gee. Trek saam met ons en ons sal aan jou goed doen; want YAHUVEH het oor Israel goeie dinge gespreek.
30 Maar hy het vir hom gesê: Ek sal nie saamtrek nie; maar ek sal na my land en my familie gaan.
31 Toe sê hy: Moet ons tog nie verlaat nie, juis daarom dat jy weet hoe ons laer moet opslaan in die woestyn, en jy sal vir ons as oë dien.
32 En as jy met ons saamtrek, sal ons daardie goeie wat YAHUVEH aan ons sal doen, ook aan jou doen.
33 En hulle het van die berg van YAHUVEH af drie dagreise ver getrek; en die verbondsark van YAHUVEH het drie dagreise ver voor hulle uit getrek om vir hulle ‘n rusplek uit te soek.
34 En die wolk van YAHUVEH was bedags oor hulle as hulle uit die laer wegtrek.
35 En as die ark wegtrek, het Moses gesê: Staan op, YAHUVEH, dat U vyande verstrooi kan word en U haters voor U aangesig kan vlug.
36 En as dit rus, het hy gesê: Keer terug, YAHUVEH, na die tien duisende van die duisende van Israel!

*~ Numeri Hoofstuk 11 ~*


1 En die volk het hulle voor die ore van YAHUVEH beklaag dat dit sleg gaan. En toe YAHUVEH dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van YAHUVEH het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer.
2 Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot YAHUVEH gebid; en die vuur het doodgegaan.
3 Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van YAHUVEH onder hulle gebrand het.
4 En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet?
5 Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.
6 Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.
7 Die manna was soos koljandersaad, en dit het gelyk na balsemgom.
8 Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeule gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in potte gekook en daarvan roosterkoeke gemaak. En die smaak daarvan was soos die smaak van oliekoeke.
9 En as die dou snags op die laer val, het die manna ook daarop geval.
10 Toe het Moses die volk, volgens hulle geslagte, elkeen by die deur van sy tent hoor ween; en die toorn van YAHUVEH het grootliks ontvlam; ook was dit verkeerd in die oë van Moses.
11 En Moses sê aan YAHUVEH: Waarom het U U kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê?
12 Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ‘n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ‘n eed beloof het?
13 Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet.
14 Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar.
15 En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.
16 Toe sê YAHUVEH aan Moses: Bring vir My sewentig manne uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy weet dat hulle oudstes van die volk en sy opsigters is, en bring hulle by die Tent van Samekoms, dat hulle daar by jou kan staan.
17 Dan sal EK neerdaal en daar met jou spreek; en van die Gees wat op jou is, sal EK afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.
18 En aan die volk moet jy sê: Heilig julle teen môre; dan sal julle vleis eet. Want julle het voor die ore van YAHUVEH geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? want dit was vir ons goed in Egipte. Daarom sal YAHUVEH vir julle vleis gee, en julle sal eet.
19 Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie—
20 ‘n hele maand lank, totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle YAHUVEH wat in julle midde is, verwerp en voor SY aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek?
21 Toe sê Moses: Ses honderd duisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: EK sal aan hulle vleis gee, en hulle sal ‘n hele maand lank eet!
22 Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is?
23 Maar YAHUVEH sê vir Moses: Sou die hand van YAHUVEH te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.
24 Toe het Moses uitgegaan en die woorde van YAHUVEH aan die volk te kenne gegee; en hy het sewentig manne uit die oudstes van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die Tent laat staan.
25 Daarop het YAHUVEH neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en HY het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.
26 Maar twee manne het in die laer agtergebly: die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad; en die Gees het op hulle gerus—hulle het behoort by die wat opgeskrywe was, hoewel hulle nie na die Tent uitgegaan het nie—en hulle het in die laer geprofeteer.
27 Toe hardloop ‘n seun en vertel dit aan Moses en sê: Eldad en Medad profeteer in die laer.
28 En Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses van sy jeug af, antwoord en sê: My heer Moses, belet hulle dit!
29 Maar Moses sê vir hom: Ywer jy vir my? Ag, as die hele volk van YAHUVEH maar profete was, dat YAHUVEH sy Gees oor hulle mag gee!
30 Daarop het Moses hom in die laer teruggetrek, hy en die oudstes van Israel.
31 Toe het ‘n wind wat van YAHUVEH kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent ‘n dagreis hier en omtrent ‘n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond.
32 Toe het die volk opgestaan daardie hele dag en die hele nag en die hele volgende dag en die kwartels versamel. Hy wat die minste gehad het, het tien homer versamel. En hulle het dit oral vir hulle uitgesprei rondom die laer.
33 Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van YAHUVEH alreeds teen die volk ontvlam het, en YAHUVEH het onder die volk ‘n baie groot slagting teweeggebring.
34 Daarom het hulle dié plek genoem Kibrot-Hattáäwa; want daar het hulle die volk begrawe wat so begerig was.
35 Van Kibrot-Hattáäwa af het die volk weggetrek na Háserot toe, en hulle het in Háserot gebly.

*~ Numeri Hoofstuk 12 ~*


1 En Mirjam en Aäron het teen Moses gespreek vanweë die Kusitiese vrou wat hy geneem het; want hy het ‘n Kusitiese vrou geneem.
2 En hulle het gesê: Het YAHUVEH dan maar alleen met Moses gespreek? Het HY nie ook met ons gespreek nie? En YAHUVEH het dit gehoor.
3 Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.
4 Toe het YAHUVEH dadelik met Moses en Aäron en Mirjam gespreek: Julle drie, kom uit na die Tent van Samekoms! En hulle drie het uitgekom.
5 En YAHUVEH het in ‘n wolkkolom neergedaal en by die ingang van die Tent gaan staan. Daarna het HY Aäron en Mirjam geroep, en hulle twee het uitgekom.
6 Toe sê HY: Hoor tog MY woorde. As julle profeet van YAHUVEH is, sal EK deur ‘n gesig MY aan hom bekend maak, deur ‘n droom sal EK met hom spreek.
7 So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou.
8 Mond tot mond spreek EK met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van YAHUVEH. Waarom het julle dan nie gevrees om teen MY kneg, teen Moses, te spreek nie?
9 En die toorn van YAHUVEH het teen hulle ontvlam, en HY het weggegaan.
10 En toe die wolk van die Tent af weggetrek het, kyk, toe was Mirjam melaats, soos sneeu. En Aäron het Mirjam aangekyk en—sy was melaats!
11 Daarop sê Aäron vir Moses: Ag, my heer, lê tog nie op ons die sonde wat ons in ons dwaasheid begaan het nie.
12 Laat sy tog nie wees soos ‘n dooie van wie se vleis, as hy uit sy moeder se skoot uitgaan, die helfte verteer is nie.
13 En Moses het YAHUVEH aangeroep en gesê: o ELOHIM, maak haar tog gesond!
14 Toe sê YAHUVEH vir Moses: As haar vader net maar in haar gesig gespuug het, sou sy nie sewe dae lank beskaamd wees nie? Laat sy sewe dae lank buitekant die laer opgesluit wees, en daarna mag sy opgeneem word.
15 En hulle het Mirjam sewe dae lank buitekant die laer opgesluit; en die volk het nie weggetrek voordat Mirjam opgeneem was nie.
16 Maar daarna het die volk van Háserot af weggetrek en in die woestyn Paran laer opgeslaan.