1
1 En YAHUVEH het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms
en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan
YAHUVEH ‘n offer wil bring, kan julle jul offer bring van vee—van beeste of van
kleinvee.
3 As sy offer ‘n brandoffer is van beeste, moet dit ‘n bul sonder gebrek wees
wat hy bring. By die ingang van die tent van samekoms moet hy dit bring, sodat
hy welgevalle voor die aangesig van YAHUVEH kan vind.
4 En hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê, dan sal dit vir hom met
welgevalle aangeneem word om versoening vir hom te doen.
5 Dan moet hy die jong bul voor die aangesig van YAHUVEH slag; en die seuns van
Aäron, die priesters, moet die bloed bring en die bloed rondom teen die altaar
uitgooi wat by die ingang van die tent van samekoms is.
6 Dan moet hy die brandoffer afslag en dit in sy stukke verdeel.
7 En die seuns van Aäron, die priester, moet vuur op die altaar neersit en hout
op die vuur reglê.
8 Ook moet die seuns van Aäron, die priesters, die stukke, die kop en die vet
reglê op die hout wat op die altaarvuur is.
9 Maar die binnegoed en die pote moet hy met water was, en die priester moet dit
alles op die altaar aan die brand steek as brandoffer, ‘n vuuroffer van lieflike
geur aan YAHUVEH.
10 En as sy offer ‘n stuk kleinvee is, van skape of van bokke, as brandoffer,
moet dit ‘n ram sonder gebrek wees wat hy bring.
11 En hy moet dit slag aan die noordekant van die altaar, voor die aangesig van
YAHUVEH; en die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed daarvan rondom
teen die altaar uitgooi.
12 Daarna moet hy dit in sy stukke verdeel, met die kop en die vet, en die
priester moet dit reglê op die hout wat op die altaarvuur is.
13 Maar die binnegoed en die pootjies moet hy met water was, en die priester
moet dit alles bring en op die altaar aan die brand steek; ‘n brandoffer is dit,
‘n vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH.
14 En as sy offer aan YAHUVEH ‘n brandoffer is van voëls, moet hy sy offer bring
van tortelduiwe of van jong duiwe.
15 En die priester moet dit na die altaar bring en die kop afknyp en op die
altaar aan die brand steek, en die bloed moet teen die kant van die altaar
uitgedruk word.
16 Dan moet hy die krop met die vere daaraan verwyder en dit by die altaar gooi,
aan die oostekant, op die asplek.
17 Dan moet hy dit by die vlerke skeur sonder om hulle af te trek; en die
priester moet dit op die altaar aan die brand steek, op die hout wat oor die
vuur is; ‘n brandoffer is dit, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH.
*~ Levitikus Hoofstuk 2 ~*
1 En as iemand aan YAHUVEH ‘n spysoffer bring, moet sy offer fynmeel wees; en hy
moet olie daarop giet en wierook daarby voeg;
2 en hy moet dit na die seuns van Aäron, die priesters, bring; en die priester
moet daarvan ‘n handvol neem, van die fynmeel met die olie, met al die wierook
wat daarby behoort; en hy moet dit as die gedenkoffer op die altaar aan die
brand steek, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH.
3 En wat oorbly van die spysoffer, is vir Aäron en sy seuns, ‘n hoogheilige deel
van die vuuroffers van YAHUVEH.
4 En as jy ‘n spysoffer bring wat in die oond gebak is, moet dit fynmeel wees,
ongesuurde koeke met olie gemeng, en ongesuurde platkoeke met olie bestryk.
5 En as ‘n spysoffer van die bakplaat jou offer is, moet dit fynmeel wees met
olie gemeng en ongesuurd.
6 Breek dit in stukkies en giet olie daarop: dit is ‘n spysoffer.
7 En as ‘n spysoffer uit die pan jou offer is, moet dit van fynmeel met olie
berei word.
8 Dan moet jy die spysoffer wat daarvan berei word, aan YAHUVEH bring: hulle
moet dit na die priester aanbring, en hy moet dit na die altaar dra.
9 En die priester moet van die spysoffer die gedenkoffer daarvan aflig en op die
altaar aan die brand steek, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH.
10 En wat oorbly van die spysoffer, is vir Aäron en sy seuns, ‘n hoogheilige
deel van die vuuroffers van YAHUVEH.
11 Geen spysoffer wat julle aan YAHUVEH bring, mag van iets wat ingesuur is,
berei word nie; want van géén suurdeeg of heuning mag julle vir YAHUVEH ‘n
vuuroffer aan die brand steek nie.
12 As ‘n offer van eerstelinge mag julle dit aan YAHUVEH bring, maar op die
altaar mag dit nie as lieflike geur kom nie.
13 En jy moet al jou spysoffers met sout berei, en jy mag die sout van die
verbond van jou ELOHIM by jou spysoffer nie laat ontbreek nie; by al jou offers
moet jy sout bring.
14 En as jy aan YAHUVEH ‘n spysoffer van eerstelinge bring, moet jy as spysoffer
van jou eerstelinge bring: are wat oor die vuur gebraai is, gebreekte korrels
van vars graan.
15 En jy moet olie daarby voeg en wierook daarop strooi; ‘n spysoffer is dit.
16 Dan moet die priester die gedenkoffer daarvan, ‘n deel van die gebreekte
koring en van die olie met al die wierook, aan die brand steek as ‘n vuuroffer
aan YAHUVEH.
*~ Levitikus Hoofstuk 3 ~*
1 En as ‘n dankoffer sy offer is, as hy dit bring van beeste, bul of vers, moet
hy dit sonder gebrek voor die aangesig van YAHUVEH bring.
2 En hy moet sy hand op die kop van sy offer lê en dit slag by die ingang van
die tent van samekoms. En die seuns van Aäron, die priesters, moet die bloed
rondom teen die altaar uitgooi.
3 Dan moet hy van die dankoffer ‘n vuuroffer aan YAHUVEH bring: die vet wat oor
die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is,
4 en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die
lewer by die niere moet hy dit wegneem.
5 En die seuns van Aäron moet dit op die altaar aan die brand steek, op die
brandoffer wat op die hout is, bo op die vuur, as ‘n vuuroffer van lieflike geur
aan YAHUVEH.
6 En as sy offer ‘n stuk kleinvee is, as ‘n dankoffer aan die HERE, moet hy dit
bring sonder gebrek, ram of ooi.
7 As hy ‘n skaaplam bring as sy offer, moet hy dit voor die aangesig van YAHUVEH
bring
8 en sy hand op die kop van sy offer lê en dit slag voor die tent van samekoms;
en die seuns van Aäron moet die bloed rondom teen die altaar uitgooi.
9 Daarna moet hy van die dankoffer die vet as vuuroffer aan YAHUVEH bring: die
hele vetstert naby die stuitjie moet hy dit wegneem en die vet wat oor die
binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is,
10 en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan
die lewer by die niere moet hy dit wegneem.
11 En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as vuurofferspys
vir YAHUVEH.
12 En as sy offer ‘n bok is, moet hy dit voor die aangesig van YAHUVEH bring
13 en sy hand op die kop daarvan lê en dit slag voor die tent van samekoms; en
die seuns van Aäron moet die bloed rondom teen die altaar uitgooi.
14 Dan moet hy daarvan sy offer as vuuroffer aan YAHUVEH bring; die vet wat oor
die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is,
15 en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan
die lewer by die niere moet hy dit wegneem.
16 En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as vuurofferspys
vir ‘n lieflike geur. Al die vet behoort aan YAHUVEH.
17 ‘n Ewige insetting is dit vir julle geslagte in al julle woonplekke: géén vet
en géén bloed mag julle eet nie.
*~ Levitikus Hoofstuk 4 ~*
1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand in swakheid sondig teen een
van alle gebooie van YAHUVEH en een van die dinge wat nie gedoen mag word nie,
tog doen
3 as die gesalfde priester sondig, sodat die volk daardeur skuldig word, moet hy
vir die sonde wat hy gedoen het, ‘n jong bul sonder gebrek aan YAHUVEH as
sondoffer bring;
4 en hy moet die bul bring na die ingang van die tent van samekoms, voor die
aangesig van YAHUVEH, en moet sy hand op die kop van die bul lê en die bul slag
voor die aangesig van YAHUVEH.
5 Dan moet die gesalfde priester van die bloed van die bul neem en dit na die
tent van samekoms bring,
6 en die priester moet sy vinger in die bloed steek en van die bloed sewe maal
sprinkel voor die aangesig van YAHUVEH, voor die voorhangsel van die heiligdom.
7 Ook moet die priester van die bloed stryk aan die horings van die altaar van
die reukwerk van speserye, wat in die tent van samekoms is, voor die aangesig
van YAHUVEH; en hy moet al die orige bloed van die bul uitgiet aan die onderkant
van die brandofferaltaar wat by die ingang van die tent van samekoms is;
8 en al die vet van die sondofferbul moet hy van hom aflig, die vet wat oor die
binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is,
9 en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die
lewer by die niere moet hy dit wegneem
10 soos dit van die dankofferbul afgelig word en die priester moet dit aan die
brand steek op die brandofferaltaar.
11 Maar die vel van die bul en al sy vleis met die kop en die pote en die
binnegoed en die mis
12 die hele bul moet hy buitekant die laer uitbring op ‘n rein plek waar die as
uitgegooi word, en hy moet hom op hout met vuur verbrand; op die plek waar die
as uitgegooi word, moet hy verbrand word.
13 En as die hele vergadering van Israel hulle misgaan sonder dat die
vergadering hom daarvan bewus is; en hulle enigiets doen wat YAHUVEH verbied
het, en skuldig word;
14 en die sonde wat hulle so gedoen het, bekend word, moet die vergadering ‘n
jong bul as sondoffer laat aankom en hom voor die tent van samekoms bring,
15 en die oudstes van die vergadering moet hulle hande op die kop van die bul lê
voor die aangesig van YAHUVEH, en die bul moet voor die aangesig van YAHUVEH
geslag word.
16 Dan moet die gesalfde priester van die bloed van die bul in die tent van
samekoms bring,
17 en die priester moet sy vinger in die bloed steek en sewe maal voor die
aangesig van YAHUVEH, voor die voorhangsel sprinkel.
18 En hy moet van die bloed stryk aan die horings van die altaar wat in die tent
van samekoms voor die aangesig van YAHUVEH is. Dan moet hy al die orige bloed
uitgiet aan die onderkant van die brandofferaltaar wat by die ingang van die
tent van samekoms is;
19 en hy moet al die vet van hom aflig en op die altaar aan die brand steek
20 en met die bul doen soos hy met die sondofferbul gedoen het. So moet hy met
hom maak; en die priester moet vir hulle versoening doen, en dit sal hulle
vergewe word.
21 Daarna moet hy die bul buitekant die laer uitbring en hom verbrand soos hy
die eerste bul verbrand het; dit is ‘n sondoffer van die vergadering.
22 As ‘n owerste sondig en in swakheid enigiets doen wat YAHUVEH sy ELOHIM
verbied het, en hy skuldig word;
23 of as sy sonde wat hy so gedoen het, aan hom bekend word, moet hy as sy offer
bring ‘n bok sonder gebrek, ‘n ram;
24 en hy moet sy hand op die kop van die bok lê en hom slag op die plek waar
hulle die brandoffer voor die aangesig van YAHUVEH slag; dit is ‘n sondoffer.
25 Dan moet die priester van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en
dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk; maar die orige bloed moet hy
aan die onderkant van die brandofferaltaar uitgiet.
26 Hy moet ook al die vet op die altaar aan die brand steek soos die vet van die
dankoffer. So moet die priester dan vir hom versoening doen weens sy sonde, en
dit sal hom vergewe word.
27 En as iemand van die volk van die land in swakheid sondig, omdat hy enigiets
doen wat YAHUVEH verbied het, en hy skuldig word;
28 of as sy sonde wat hy gedoen het, aan hom bekend word, dan moet hy as sy
offer bring ‘n bok sonder gebrek, ‘n ooi, vir die sonde wat hy gedoen het;
29 en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en die sondoffer slag op
die plek van die brandoffer.
30 Dan moet die priester van haar bloed met sy vinger neem en dit aan die
horings van die brandofferaltaar stryk; maar al die orige bloed moet hy aan die
onderkant van die altaar uitgiet;
31 en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankoffer af weggeneem is,
en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as lieflike geur vir
YAHUVEH. So moet die priester dan vir hom versoening doen, en dit sal hom
vergewe word.
32 Maar ingeval hy ‘n skaaplam as sy sondoffer bring, moet dit ‘n ooi wees
sonder gebrek wat hy bring;
33 en hy moet sy hand op die kop van die sondoffer lê en dit as sondoffer slag
op die plek waar hulle die brandoffer slag.
34 Dan moet die priester van die bloed van die sondoffer met sy vinger neem en
dit aan die horings van die brandofferaltaar stryk, maar al die orige bloed moet
hy aan die onderkant van die altaar uitgiet;
35 en al die vet moet hy wegneem soos die vet van die dankofferlam weggeneem
word, en die priester moet dit op die altaar oor die vuuroffers van YAHUVEH aan
die brand steek. So moet die priester dan vir hom versoening doen vir die sonde
wat hy gedoen het, en dit sal hom vergewe word.
*~ Levitikus Hoofstuk 5 ~*
1 En as iemand sondig dat hy die luid uitgesproke beswering hoor, terwyl hy
getuie was, dit gesien het of daarvan weet as hy naamlik dit nie te kenne gee
nie en so sy ongeregtigheid moet dra;
2 of as iemand enigiets aanraak wat onrein is die aas van ‘n onrein wilde dier
of die aas van onrein vee of die aas van onrein gedierte wat rondkruip en dit
vir hom verborge was, maar hy onrein geword het en skuldig is;
3 of as hy iets onreins van ‘n mens aanraak volgens al die onreinheid waardeur
hy hom kan verontreinig en dit vir hom verborge was, maar hy dit te wete gekom
het en skuldig is;
4 of as iemand sweer terwyl hy onverskillig met die lippe praat om kwaad of goed
te doen volgens alles wat ‘n mens met ‘n eed onverskillig kan praat en dit vir
hom verborge was, maar hy dit te wete gekom het en skuldig is aan een van
hierdie dinge;
5 as hy dan aan een van hierdie dinge skuldig is, moet hy bely waar hy teen
gesondig het,
6 en as boete vir die sonde wat hy gedoen het, aan YAHUVEH ‘n ooi bring van die
kleinvee, ‘n skaaplam of ‘n bok, as sondoffer. En die priester moet vir hom
versoening doen weens sy sonde.
7 Maar as hy nie ‘n stuk kleinvee kan bekostig nie, moet hy as boete vir wat hy
gesondig het, twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan YAHUVEH bring, een as
sondoffer en een as brandoffer;
8 en hy moet hulle na die priester bring, wat dié een eerste moet offer wat as
sondoffer bedoel is, en sy kop vlak voor sy nek afknyp sonder om dit af te trek.
9 Dan moet hy van die bloed van die sondoffer teen die kant van die altaar
sprinkel; maar wat oorbly van die bloed, moet aan die onderkant van die altaar
uitgedruk word; dit is ‘n sondoffer.
10 En die ander een moet hy as brandoffer volgens voorskrif berei. So moet die
priester dan vir hom versoening doen weens die sonde wat hy gedoen het, en dit
sal hom vergewe word.
11 Maar as hy nie twee tortelduiwe of twee jong duiwe kan bekostig nie, moet hy
as offer vir wat hy gesondig het, die tiende van ‘n efa fynmeel as sondoffer
bring. Hy moet geen olie daarop gooi en geen wierook daar byvoeg nie, want dit
is ‘n sondoffer.
12 En hy moet dit na die priester bring, en die priester moet daar ‘n handvol
van neem as die gedenkoffer en dit op die altaar oor die vuuroffers van YAHUVEH
aan die brand steek; dit is ‘n sondoffer.
13 So moet die priester dan vir hom versoening doen vir die sonde wat hy gedoen
het in enigeen van hierdie gevalle, en dit sal hom vergewe word; verder behoort
dit aan die priester net soos die spysoffer.
14 Ook het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
15 As iemand in iets ontrou handel en in swakheid sondig met betrekking tot een
van die heilige gawes van YAHUVEH, moet hy as boete aan YAHUVEH bring ‘n ram
sonder gebrek van die kleinvee, na jou skatting van die waarde in sikkels silwer,
volgens die sikkel van die heiligdom, as ‘n skuldoffer.
16 En hy moet vir wat hy ten opsigte van die heilige gawes gesondig het,
vergoeding gee en nog die vyfde deel daarvan byvoeg en dit aan die priester gee;
en die priester moet vir hom versoening doen deur die skuldofferram, en dit sal
hom vergewe word.
17 En as iemand sondig en onbewus enigiets doen wat YAHUVEH verbied het, en
skuldig word en sy ongeregtigheid moet dra,
18 dan moet hy van die kleinvee, na jou skatting, ‘n ram sonder gebrek as
skuldoffer na die priester bring; en die priester moet vir hom versoening doen
vir die misdryf wat hy sonder opset, onbewus begaan het; en dit sal hom vergewe
word.
19 Dit is ‘n skuldoffer; hy is sekerlik skuldig teenoor YAHUVEH.
Deuteronomium 25:17-19
17 Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het,
18 hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes
agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy ELOHIM nie gevrees het
nie.
19 As dan YAHUVEH jou ELOHIM vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die
land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan
moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.