Shabbat Shalom!
Pesach Shabbat / Chol Hamoed
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Esegiël 37:1-14;

37

1 Die hand van YAHUVEH was op my, en HY het my uitgebring deur die Gees van YAHUVEH en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene.
2 En HY het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ‘n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor.
3 Toe sê HY vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here YAHUVEH, U weet dit.
4 Daarop sê HY vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van YAHUVEH!
5 So spreek die Here YAHUVEH tot hierdie bene: Kyk, EK bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word.
6 En EK sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat EK YAHUVEH is.
7 Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar ‘n geruis, en kyk—’n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been.
8 Toe kyk ek en—daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en ‘n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie.
9 Daarop sê HY vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here YAHUVEH: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. (Eseg 36:27)
10 En ek het geprofeteer soos HY my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan—’n ontsaglike groot leër! (Dan 12:2)
11 Toe sê HY vir my: Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!
12 Daarom, profeteer en sê aan hulle: So spreek die Here YAHUVEH: Kyk, EK sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o MY volk! En EK sal julle bring in die land van Israel.
13 En julle sal weet dat EK YAHUVEH is as EK julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o MY volk!
14 En EK sal MY Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en EK sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat EK, YAHUVEH, dit gespreek en gedoen het, spreek YAHUVEH.

1 Korinthiërs 5:1-8;


1 ‘n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.
2 En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit.
3 Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het,
4 in die Naam van onse Here YAHUSHUA, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here YAHUSHUA—
5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here YAHUSHUA.
6 Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?
7 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.
8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.