Shabbat Shalom!
Pinchas Phinehas / Donker Velkleur
- hierdie week se Torah lees.


Numeri 25:10-30:1;

25

10 Toe het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
11 Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, het MY grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy MY ywer onder hulle geywer het, sodat EK die kinders van Israel in MY ywer nie verteer het nie.
12 Daarom spreek: Kyk, EK sluit met hom MY vredeverbond,
13 en dit sal vir hom en sy nageslag ná hom die verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy vir sy ELOHIM geywer en versoening vir die kinders van Israel gedoen het.
14 En die naam van die Israelitiese man wat verslaan is, wat saam met die Midianitiese vrou verslaan is, was Simri, die seun van Salu, owerste van ‘n familie van die Simeoniete.
15 En die naam van die Midianitiese vrou wat verslaan is, was Kosbi, die dogter van Sur. Hy was stamhoof van ‘n familie in Mídian.
16 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
17 Behandel die Midianiete as vyand en verslaan hulle,
18 want hulle het julle as vyand behandel deur hulle liste wat hulle teen julle bedink het in die saak van Peor en in die saak van Kosbi, die dogter van die vors van Mídian, hulle landgenoot, wat op die dag van die plaag weens Peor verslaan is.

*~ Numeri Hoofstuk 26 ~*


1 En ná die plaag het YAHUVEH met Moses en met Eleásar, die seun van die priester Aäron, gespreek en gesê:
2 Neem julle die volle getal van die hele vergadering van die kinders van Israel op, van twintig jaar oud en daarbo, volgens hulle families, almal wat op kommando moet uittrek in Israel.
3 En Moses en die priester Eleásar het hulle toegespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê:
4 Laat hulle opneem van twintig jaar oud en daarbo, soos YAHUVEH Moses beveel het. En die kinders van Israel wat uit Egipteland uitgetrek het, was:
5 Ruben, die eersgeborene van Israel; die seuns van Ruben was: van Henog die geslag van die Henogiete; van Pallu die geslag van die Palluïete;
6 van Hesron die geslag van die Hesroniete; van Karmi die geslag van die Karmiete.
7 Dit is die geslagte van die Rubeniete; en hulle geteldes was drie en veertig duisend sewe honderd en dertig.
8 En die seuns van Pallu was: Elíab;
9 en die seuns van Elíab was: Némuel en Datan en Abíram. Dit is Datan en Abíram wat na die vergadering opgeroep was, wat getwis het teen Moses en Aäron in die bende van Korag toe daar teen YAHUVEH getwis is.
10 En die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind, saam met Korag, toe die bende gesterf het deurdat die vuur die twee honderd en vyftig man verteer het; en hulle het tot ‘n teken geword.
11 Maar die seuns van Korag het nie gesterf nie.
12 Die seuns van Símeon volgens hulle geslagte: van Némuel die geslag van die Nemueliete; van Jamin die geslag van die Jaminiete; van Jagin die geslag van die Jaginiete;
13 van Serag die geslag van die Sargiete; van Saul die geslag van die Sauliete.
14 Dit is die geslagte van die Simeoniete, twee en twintig duisend twee honderd.
15 Die seuns van Gad volgens hulle geslagte: van Sefon die geslag van die Sefoniete; van Haggi die geslag van die Haggiete; van Suni die geslag van die Suniete;
16 van Osni die geslag van die Osniete; van Eri die geslag van die Eriete;
17 van Arod die geslag van die Arodiete; van Areëli die geslag van die Areëliete.
18 Dit is die geslagte van die seuns van Gad volgens hulle geteldes, veertig duisend vyf honderd.
19 Die seuns van Juda was: Er en Onan; maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän.
20 En die seuns van Juda volgens hulle geslagte: van Sela die geslag van die Selaniete; van Peres die geslag van die Parsiete; van Serag die geslag van die Sargiete.
21 En die seuns van Peres: van Hesron die geslag van die Hesroniete; van Hamul die geslag van die Hamuliete.
22 Dit is die geslagte van Juda volgens hulle geteldes, ses en sewentig duisend vyf honderd.
23 Die seuns van Issaskar volgens hulle geslagte: van Tola die geslag van die Tolaïete; van Puwa die geslag van die Puniete;
24 van Jasub die geslag van die Jasubiete; van Simron die geslag van die Simroniete.
25 Dit is die geslagte van Issaskar volgens hulle geteldes, vier en sestig duisend drie honderd.
26 Die seuns van Sébulon volgens hulle geslagte: van Sered die geslag van die Sardiete; van Elon die geslag van die Eloniete; van Jágleël die geslag van die Jagleëliete.
27 Dit is die geslagte van die Sebuloniete volgens hulle geteldes, sestig duisend vyf honderd.
28 Die seuns van Josef volgens hulle geslagte was: Manasse en Efraim.
29 Die seuns van Manasse: van Magir die geslag van die Magiriete. En Magir was die vader van Gílead; van Gílead die geslag van die Gileadiete.
30 Dit is die seuns van Gílead: van Jeser die geslag van die Jesriete; van Helek die geslag van die Helkiete;
31 en van Asriël die geslag van die Asriëliete; en van Segem die geslag van die Sigmiete;
32 en van Semída die geslag van die Semidaïete; en van Hefer die geslag van die Hefriete.
33 Maar Selófhad, die seun van Hefer, het geen seuns gehad nie, maar net dogters. En die name van die dogters van Selófhad was: Magla en Noa, Hogla, Milka en Tirsa.
34 Dit is die geslagte van Manasse; en hulle geteldes was twee en vyftig duisend sewe honderd.
35 Dit is die seuns van Efraim volgens hulle geslagte: van Sutélag die geslag van die Sutalgiete; van Beger die geslag van die Bagriete; van Tahan die geslag van die Tahaniete.
36 En dit is die seuns van Sutélag: van Eran die geslag van die Eraniete.
37 Dit is die geslagte van die seuns van Efraim volgens hulle geteldes, twee en dertig duisend vyf honderd. Dit is die seuns van Josef volgens hulle geslagte.
38 Die seuns van Benjamin volgens hulle geslagte: van Bela die geslag van die Baliete; van Asbel die geslag van die Asbeliete; van Ahíram die geslag van die Ahiramiete;
39 van Sefúfam die geslag van die Sufamiete; van Hufam die geslag van die Hufamiete.
40 En die seuns van Bela was: Ard en Naäman; van Ard die geslag van die Ardiete; van Naäman die geslag van die Naämiete.
41 Dit is die seuns van Benjamin volgens hulle geslagte; en hulle geteldes was vyf en veertig duisend ses honderd.
42 Dit is die seuns van Dan volgens hulle geslagte: van Suham die geslag van die Suhamiete. Dit is die geslagte van Dan volgens hulle geslagte.
43 Al die geslagte van die Suhamiete volgens hulle geteldes was vier en sestig duisend vier honderd.
44 Die seuns van Aser volgens hulle geslagte: van Jimna die geslag van die Jimnaïete; van Jiswi die geslag van die Jiswiete; van Bería die geslag van die Beriïete;
45 van die seuns van Bería: van Heber die geslag van die Hebriete; van Málkiël die geslag van die Malkiëliete.
46 En die naam van die dogter van Aser was Serag.
47 Dit is die geslagte van die seuns van Aser volgens hulle geteldes, drie en vyftig duisend vier honderd.
48 Die seuns van Náftali volgens hulle geslagte: van Jágseël die geslag van die Jagseëliete; van Guni die geslag van die Guniete;
49 van Jeser die geslag van die Jisriete; van Sillem die geslag van die Sillemiete.
50 Dit is die geslagte van Náftali volgens hulle geslagte; en hulle geteldes was vyf en veertig duisend vier honderd.
51 Dit is die geteldes van die kinders van Israel: ses honderd en een duisend sewe honderd en dertig.
52 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
53 Vir hierdie mense moet die land as erfenis verdeel word volgens die getal name.
54 Vir die wat baie is, moet jy hulle erfdeel groot maak; en vir die wat min is, moet jy hulle erfdeel klein maak; aan elke stam moet sy erfdeel volgens sy geteldes gegee word.
55 Nogtans moet die land deur die lot verdeel word; volgens die name van hulle voorvaderlike stamme moet hulle erwe.
56 Volgens die lot moet hulle erfenis verdeel word tussen die wat baie en die wat min is.
57 En dit is die geteldes van Levi volgens hulle geslagte: van Gerson die geslag van die Gersoniete; van Kehat die geslag van die Kehatiete; van Merári die geslag van die Merariete.
58 Dit is die geslagte van Levi: die geslag van die Libniete, die geslag van die Hebroniete, die geslag van die Magliete, die geslag van die Musiete, die geslag van die Koragiete. En Kehat was die vader van Amram.
59 En die naam van Amram se vrou was Jogébed, die dogter van Levi wat vir Levi in Egipte gebore is; en vir Amram het sy gebaar: Aäron en Moses en Mirjam, hulle suster.
60 En vir Aäron is gebore: Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar.
61 En Nadab en Abíhu het gesterwe toe hulle vreemde vuur voor die aangesig van YAHUVEH gebring het.
62 En hulle geteldes was drie en twintig duisend, almal wat manlik was van ‘n maand oud en daarbo. Want hulle is nie getel onder die kinders van Israel nie, omdat aan hulle geen erfdeel onder die kinders van Israel gegee is nie.
63 Dit is hulle wat deur Moses en die priester Eleásar getel is, wat die kinders van Israel in die vlaktes van Moab getel het, by die Jordaan van Jérigo.
64 En onder hulle was daar niemand van die wat deur Moses en die priester Aäron getel is nie, toe hulle die kinders van Israel in die woestyn Sinai getel het.
65 Want YAHUVEH het van hulle gesê: Sterwe sal hulle in die woestyn! En van hulle het niemand oorgebly nie buiten Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.

*~ Numeri Hoofstuk 27 ~*


1 Daarna het nader gekom die dogters van Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, van die geslagte van Manasse, die seun van Josef—dit is die name van sy dogters: Magla, Noa en Hogla en Milka en Tirsa—
2 en hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleásar en voor die owerstes en die hele vergadering, by die ingang van die Tent van Samekoms, en gesê:
3 Ons vader het in die woestyn gesterwe, en hy het nie behoort by die bende van die wat teen YAHUVEH vergader het in die bende van Korag nie, maar hy het om sy sonde ontwil gesterwe en geen seuns gehad nie.
4 Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons ‘n besitting onder die broers van ons vader.
5 Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van YAHUVEH.
6 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
7 Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik ‘n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan.
8 En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan.
9 En as hy geen dogter het nie, moet julle sy erfdeel aan sy broers gee.
10 En as hy geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan die broers van sy vader gee.
11 En as sy vader geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan sy bloedverwant gee wat naaste aan hom is uit sy geslag, en dié moet dit in besit neem. En dit moet vir die kinders van Israel ‘n regsinsetting wees, soos YAHUVEH Moses beveel het.
12 Daarna het YAHUVEH aan Moses gesê: Klim op hierdie gebergte Abárim, en bekyk die land wat EK aan die kinders van Israel gegee het.
13 En as jy dit gesien het, sal jy ook by jou volksgenote versamel word soos jou broer Aäron versamel is;
14 omdat julle in die woestyn Sin, toe die vergadering getwis het, teen MY bevel wederstrewig gewees het om MY by die water voor hulle oë te heilig. Dit is die water van Mériba by Kades, in die woestyn Sin.
15 Toe het Moses met YAHUVEH gespreek en gesê:
16 Laat YAHUVEH, die ELOHIM van die geeste van alle vlees, ‘n man oor die vergadering aanstel
17 wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek, en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van YAHUVEH nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie.
18 Toe sê YAHUVEH aan Moses: Neem vir jou Josua, die seun van Nun, ‘n man in wie die Gees is; en lê hom die hand op,
19 en stel hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering, en gee hom ‘n opdrag voor hulle oë;
20 en lê op hom van jou hoogheid, sodat die hele vergadering van die kinders van Israel na hom kan luister.
21 En hy moet voor die priester Eleásar staan, dat dié vir hom die beslissing van die Urim kan vra voor die aangesig van YAHUVEH; volgens sy uitspraak moet hulle uittrek en volgens sy uitspraak moet hulle intrek, hy en al die kinders van Israel saam met hom en die hele vergadering.
22 En Moses het gedoen soos YAHUVEH hom beveel het: hy het Josua geneem en hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering gestel,
23 en hy het hom die hande opgelê en hom ‘n opdrag gegee soos YAHUVEH deur die diens van Moses gespreek het.

*~ Numeri Hoofstuk 28 ~*


1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: Julle moet daarvoor sorg om MY offer, MY spys vir MY vuuroffers as lieflike geur vir MY, op die bepaalde tyd aan MY te bring.
3 En jy moet vir hulle sê: Dit is die vuuroffer wat julle aan YAHUVEH moet bring: twee jaaroud lammers sonder gebrek elke dag as ‘n voortdurende brandoffer.
4 Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei;
5 met ‘n tiende van ‘n efa fynmeel as spysoffer, gemeng met ‘n kwart-hin uitgestampte olie.
6 Dit is die voortdurende brandoffer wat by die berg Sinai ingestel is as lieflike geur, ‘n vuuroffer aan YAHUVEH.
7 En die drankoffer wat daarby behoort, moet wees ‘n kwart-hin vir elke lam. In die Heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan YAHUVEH uitgiet.
8 En die ander lam moet jy teen die aand berei; met dieselfde spysoffer as in die môre en met die drankoffer wat daarby behoort, moet jy dit berei—’n vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH.
9 Maar op die sabbatdag twee jaaroud lammers sonder gebrek en twee-tiendes van ‘n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en die drankoffer wat daarby behoort.
10 Dit is die brandoffer van die sabbat op elke sabbat, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
11 En by die begin van julle maande moet julle ‘n brandoffer aan YAHUVEH bring: twee jong bulle en een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
12 en drie-tiendes van ‘n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke bul, en twee tiendes fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir die een ram;
13 en een-tiende fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke lam. Dit is ‘n brandoffer, ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer aan YAHUVEH.
14 En hulle drankoffers moet wees ‘n half-hin wyn vir ‘n bul en ‘n derde van ‘n hin vir ‘n ram en ‘n kwart-hin vir ‘n lam. Dit is die brandoffer by elke nuwemaan, vir die maande van die jaar.
15 Ook moet een bokram as sondoffer aan YAHUVEH berei word, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
16 En in die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, is die Pasga van YAHUVEH.
17 En op die vyftiende dag van hierdie maand is dit fees; sewe dae lank moet ongesuurde brode geëet word.
18 Op die eerste dag moet daar ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
19 Maar julle moet as vuuroffer, as brandoffer aan YAHUVEH bring: twee jong bulle en een ram en sewe jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle vir julle wees.
20 En hulle spysoffer fynmeel met olie gemeng: drie-tiendes van ‘n efa vir ‘n bul en twee-tiendes vir ‘n ram moet julle berei.
21 Een-tiende moet jy vir elke lam van die sewe lammers berei.
22 Daarby een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen.
23 Behalwe die môrebrandoffer, wat as voortdurende brandoffer dien, moet julle dit berei.
24 Op dié manier moet julle elke dag, sewe dae lank, die vuurofferspys van lieflike geur vir YAHUVEH berei; by die voortdurende brandoffer moet dit berei word—en die drankoffer wat daarby behoort.
25 En op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
26 En op die dag van die eerstelinge, as julle ‘n nuwe spysoffer by julle fees van die weke aan YAHUVEH bring, moet daar vir julle’n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
27 Dan moet julle ‘n brandoffer as lieflike geur aan YAHUVEH bring: twee jong bulle, een ram, sewe jaaroud lammers;
28 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul, twee-tiendes vir die een ram,
29 een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
30 een bokram om vir julle versoening te doen.
31 Behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, moet julle dit berei—hulle moet vir julle sonder gebrek wees—en hulle drankoffers.

*~ Numeri Hoofstuk 29 ~*


1 En in die sewende maand, op die eerste van die maand, moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie; dit moet vir julle ‘n dag van trompetgeklank wees.
2 Dan moet julle ‘n brandoffer as lieflike geur vir YAHUVEH berei: een jong bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
3 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes van ‘n efa vir die bul, twee-tiendes vir die ram,
4 en een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
5 en een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen;
6 behalwe die brandoffer van die nuwemaan en die spysoffer wat daarby behoort, en die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, en hulle drankoffers volgens die daarvoor geldende voorskrif—tot ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer aan YAHUVEH.
7 En op die tiende van hierdie sewende maand moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees, en julle moet julle verootmoedig; géén werk mag julle doen nie.
8 Dan moet julle ‘n brandoffer as lieflike geur aan YAHUVEH bring: een jong bul, een ram, sewe jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle vir julle wees;
9 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir die bul, twee-tiendes vir die een ram,
10 een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
11 een bokram as sondoffer, behalwe die sondoffer van versoening en die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort—en hulle drankoffers.
12 En op die vyftiende dag van die sewende maand moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie, maar julle moet sewe dae lank vir YAHUVEH ‘n fees vier.
13 En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH bring: dertien jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle wees;
14 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul van die dertien bulle, twee-tiendes vir elke ram van die twee ramme,
15 en een-tiende vir elke lam van die veertien lammers;
16 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
17 Daarna op die tweede dag: twaalf jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
18 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
19 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffers, en die spysoffer en drankoffers wat daarby behoort.
20 En op die derde dag: elf bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
21 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
22 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
23 Verder op die vierde dag: tien bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
24 hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
25 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
26 En op die vyfde dag: nege bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
27 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
28 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
29 Daarna op die sesde dag: agt bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
30 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
31 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
32 En op die sewende dag: sewe bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
33 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die daarvoor geldende voorskrif;
34 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
35 Op die agtste dag moet daar vir julle ‘n feestyd wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
36 En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH bring: een bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
37 hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bul, die ram en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
38 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
39 Dit moet julle tot eer van YAHUVEH op jul feestye berei, behalwe julle geloftes en julle vrywillige gawes, of dit al brandoffers is of spysoffers of drankoffers of dankoffers.
40 En Moses het aan die kinders van Israel alles gesê net soos YAHUVEH Moses beveel het.

*~ Numeri Hoofstuk 30 ~*


1 En Moses het met die stamhoofde van die kinders van Israel gespreek en gesê: Dit is die saak wat YAHUVEH beveel het: