4
4 En Debóra, ‘n profetes, die vrou van Láppidot, het in dié tyd Israel gerig;
5 en sy het gesit onder die palm van Debóra, tussen Rama en Bet-el, op die
gebergte van Efraim; en die kinders van Israel het na haar opgegaan vir
regspraak.
6 Toe laat sy Barak, die seun van Abinóam, uit Kedes in Náftali, roep en sê vir
hom: Het YAHUVEH, die ELOHIM van Israel, nie bevel gegee nie: Gaan, trek na die
berg Tabor, en neem tien duisend man van die kinders van Náftali en van die
kinders van Sébulon met jou saam?
7 dan sal EK Sísera, die leërowerste van Jabin, met sy strydwaens en sy menigte
na jou, na die spruit Kison trek, en EK sal hom in jou hand gee.
8 Maar Barak sê vir haar: As u met my saamtrek, sal ek gaan; maar as u nie met
my saamtrek nie, gaan ek nie.
9 Toe sê sy: Ek sal sekerlik met jou saamtrek, maar die eer sal nie joue wees op
die pad wat jy sal gaan nie; want YAHUVEH sal Sísera in die hand van ‘n vrou
verkoop; en Debóra het opgestaan en saam met Barak na Kedes getrek.
10 Daarop het Barak Sébulon en Náftali bymekaargeroep na Kedes toe, en tien
duisend man het op sy voetspore opgetrek, en Debóra het saam met hom opgetrek.
11 En Heber, die Keniet, het hom afgeskei van Kain, van die kinders van Hobab,
die swaer van Moses, en het sy tente opgeslaan tot by die terpentynboom by
Saänáim, naby Kedes.
12 En toe hulle aan Sísera berig bring dat Barak, die seun van Abinóam, na die
berg Tabor opgetrek het,
13 het Sísera al sy strydwaens, nege honderd ysterwaens, en al die manskappe wat
by hom was, uit Haróset van die heidene na die spruit Kison bymekaargeroep.
14 Daarop sê Debóra vir Barak: Maak jou klaar, want dit is die dag waarop
YAHUVEH Sísera in jou hand gee. Trek YAHUVEH nie voor jou uit nie? Toe trek
Barak van die berg Tabor af, en tien duisend man agter hom aan.
15 En YAHUVEH het Sísera met al die waens en die hele leër deur die skerpte van
die swaard in verwarring gebring voor Barak uit, en Sísera het van sy wa
afgeklim en te voet gevlug.
16 Maar Barak het die waens en die leër agternagejaag tot by Haróset van die
heidene, en die hele leër van Sísera het deur die skerpte van die swaard geval;
daar het selfs nie een oorgebly nie.
17 Toe vlug Sísera te voet na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet;
want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huis van Heber,
die Keniet.
18 En Jael het uitgegaan Sísera tegemoet en vir hom gesê: Draai uit, my heer,
draai uit na my! Moenie bang wees nie! En hy het na haar uitgedraai, na die
tent, en sy het hom met ‘n kombers toegemaak.
19 Daarop sê hy vir haar: Gee my tog ‘n bietjie water om te drink, want ek het
dors; sy maak toe die melksak oop en laat hom daaruit drink en maak hom weer
toe.
20 En hy sê vir haar: Gaan staan by die tentdeur, en as iemand kom en jou vra en
sê: Is hier iemand? antwoord dan: Nee.
21 Toe neem Jael, die vrou van Heber, ‘n tentpen en vat die hamer in haar hand
en gaan stilletjies na hom en dryf die pen terwyl hy vas aan die slaap was
dwarsdeur die slaap van sy hoof, sodat dit in die grond indring. So het hy dan
bewusteloos geword en gesterwe.
22 En kyk, terwyl Barak Sísera agtervolg, gaan Jael uit hom tegemoet en sê vir
hom: Kom, en ek sal u die man wys wat u soek; en toe hy by haar inkom, lê Sísera
daar dood, met die pen deur die slaap van sy hoof!
23 So het ELOHIM dan op dié dag Jabin, die koning van Kanaän, voor die kinders
van Israel onderwerp.
24 En die hand van die kinders van Israel het al swaarder gaan druk op Jabin,
die koning van Kanaän, totdat hulle Jabin, die koning van Kanaän, uitgeroei het.
*~ Rigters Hoofstuk 5 ~*
1 Op dié dag het Debóra en Barak, die seun van Abinóam, gesing en gesê:
2 Omdat aanvoerders aangevoer het in Israel, omdat die volk hom gewillig getoon
het—prys YAHUVEH!
3 Hoor, o konings! Luister, o vorste! Ek, tot eer van YAHUVEH wil ek sing, tot
eer van YAHUVEH, die ELOHIM van Israel, wil ek psalmsing.
4 YAHUVEH, toe U uitgetrek het uit Seïr, toe U voortgestap het uit die veld van
Edom, het die aarde gebeef, ook het die hemel gedrup, ook het die wolke water
gedrup.
5 Berge het gewankel voor die Aangesig van YAHUVEH uit, hierdie Sinai voor die
Aangesig van YAHUVEH, die ELOHIM van Israel.
6 In die dae van Samgar, die seun van Anat, in die dae van Jael, was die paaie
verlate, en die reisigers het langs sypaaie gegaan.
7 Leiers het ontbreek in Israel, ontbreek; totdat ek, Debóra, opgestaan het, ek,
‘n moeder in Israel, opgestaan het.
8 Kies hulle nuwe gode, dan is daar oorlog in die poorte; was daar skild of
spies te sien onder veertig duisend in Israel?
9 My hart is vir die aanvoerders van Israel wat hulle gewillig betoon het onder
die volk—prys YAHUVEH!
10 Julle wat op wit eselinne ry, wat op tapyte sit, wandelaars langs die paaie,
dink na!
11 Vanweë die stem van die boogskutters tussen die drinkplekke, besing hulle
daar die regverdige dade van YAHUVEH, die regverdige dade van SY leiding in
Israel. Toe het die volk van YAHUVEH afgetrek na die poorte toe.
12 Word wakker, word wakker, Debóra! Word wakker, word wakker, hef ‘n lied aan!
Staan op, Barak! en voer jou gevangenes weg, seun van Abinóam!
13 Toe het die oorblyfsel van die vername manne van die volk afgetrek, toe het
YAHUVEH vir my afgetrek onder die helde.
14 Uit Efraim, die wat hulle wortel in Amalek het; Benjamin, agter jou aan onder
jou manskappe; uit Magir trek die aanvoerders af, en uit Sébulon die wat met die
werwerstaf uittrek;
15 en vorste in Issaskar met Debóra saam; en Issaskar soos Barak: in die dal
storm hulle op sy voetspore. In die afdelings van Ruben was die voornemens van
die hart groot.
16 Waarom het jy tussen die veekrale bly sit en luister na die fluitspel by die
troppe vee? In die afdelings van Ruben was die voornemens van die hart groot.
17 Gílead het rustig oorkant die Jordaan gebly; en Dan, waarom vertoef hy by die
skepe? Aser het bly sit aan die seekus en aan sy baaie rustig gebly.
18 Sébulon is ‘n volk wat sy siel gering ag tot die dood toe; ook Náftali op die
hoogvlaktes.
19 Konings het gekom, geveg; toe het die konings van Kanaän geveg by Táänag, by
die waters van Megíddo—geen stuk silwer het hulle geneem nie.
20 Uit die hemel het die sterre geveg, uit hulle bane het hulle teen Sísera
geveg;
21 die spruit Kison het hulle afgedrywe, die spruit van ontmoeting, die spruit
Kison! Tree op, my siel, met mag!
22 Toe het die perdepote geklap van die gejaag, die gejaag van hulle geweldiges.
23 Vloek Meros, sê die Engel van YAHUVEH; ja, vervloek sy inwoners, omdat hulle
YAHUVEH nie tot hulp gekom het nie, YAHUVEH tot hulp onder die helde.
24 Mag bo die vroue geseënd wees Jael, die vrou van Heber, die Keniet; geseënd
wees bo die vroue in die tent!
25 Water het hy gevra, melk het sy gegee, in ‘n sierlike skottel het sy dikmelk
gebring.
26 Haar hand steek sy uit na die tentpen en haar regterhand na die werksman se
hamer; en sy hamer Sísera, verpletter sy kop en verbrysel en deurboor die slaap
van sy hoof.
27 Tussen haar voete sak hy inmekaar, val, lê daar! Tussen haar voete sak hy
inmekaar, val; waar hy inmekaarsak, daar lê hy—morsdood.
28 Deur die venster kyk die moeder van Sísera uit, en sy roep deur die
venstertralie: Waarom vertoef sy wa om te kom? Waarom versuim die passe van sy
wa-span?
29 Die skranderste van haar vorstinne antwoord haar, ja, sy self antwoord op
haar woorde:
30 Hulle het seker buit gevind en verdeel dit: een slavin, twee slavinne vir
elke man; ‘n buit van bont klere vir Sísera, ‘n buit van bont klere,
veelkleurige; ‘n bont doek, twee veelkleuriges as buit vir my hals.
31 So moet al U vyande, YAHUVEH, omkom! Maar die wat HOM liefhet, is soos die
opgang van die son in sy krag. En die land het veertig jaar lank gerus.
Mattheus 14:22-33;
22 En YAHUSHUA het dadelik SY dissipels gedwing om in die skuit te gaan en voor
HOM uit te vaar na die oorkant, terwyl HY die skare wegstuur.
23 En nadat HY die skare weggestuur het, klim HY op die berg om in die
eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was HY daar alleen.
24 En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want
die wind was teen hulle.
25 Maar in die vierde nagwaak het YAHUSHUA na hulle gekom, al wandelende op die
see.
26 En toe die dissipels HOM op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit
is ‘n spook! En hulle het geskreeu van vrees.
27 Maar YAHUSHUA het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is
EK! Moenie vrees nie.
28 En Petrus antwoord HOM en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na
U te kom.
29 En HY sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na
YAHUSHUA te gaan.
30 Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink,
roep hy uit en sê: Here, red my!
31 En YAHUSHUA het dadelik SY hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê:
Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?
32 Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê.
33 Toe kom die wat in die skuit was, en val voor HOM neer en sê: Waarlik, U is
die Seun van ELOHIM!