15
1 Toe sê Samuel vir Saul: YAHUVEH het my gestuur om jou as koning te salf oor
SY volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die Woorde van YAHUVEH.
2 So sê YAHUVEH van die Leërskare: EK het terdeë gelet op wat Amalek Israel
aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte.
3 Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy
het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as
vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.
4 Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Teláim: twee
honderd duisend voetgangers en tien duisend man van Juda.
5 En toe Saul by die stad van Amalek aankom en in die dal ‘n hinderlaag opstel,
6 sê Saul vir die Keniete: Gaan weg, verwyder julle, trek af onder die
Amalekiete uit, dat ek julle nie met hulle saam wegruim nie; want julle het guns
bewys aan al die kinders van Israel by hulle optog uit Egipte. Toe het die
Keniete hulle verwyder onder die Amalekiete uit.
7 En Saul het die Amalekiete verslaan van Hawíla af in die rigting van Sur wat
oos van Egipte lê.
8 En Agag, die koning van Amalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk
deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref.
9 Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en
beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was—dit wou
hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle
was, dit het hulle met die banvloek getref.
10 En die Woord van YAHUVEH het tot Samuel gekom en gesê:
11 EK het berou gekry dat EK Saul koning gemaak het, want hy het van MY afvallig
geword en MY Woorde nie uitgevoer nie. Toe het Samuel kwaad geword en die hele
nag deur YAHUVEH aangeroep.
12 Maar die môre vroeg het Samuel hom klaargemaak om Saul te ontmoet. En aan
Samuel is meegedeel en gesê: Saul het in Karmel aangekom, en kyk, hy het vir hom
‘n gedenkteken opgerig; en hy het weggedraai en verbygegaan en afgetrek na
Gilgal.
13 Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Mag u geseënd wees deur YAHUVEH: ek
het die Woord van YAHUVEH uitgevoer.
14 Daarop vra Samuel: Maar wat vir ‘n geblêr van kleinvee is dit in my ore en ‘n
gebulk van beeste wat ek hoor?
15 En Saul sê: Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het
die beste kleinvee en beeste gespaar om aan YAHUVEH u ELOHIM te offer; maar die
ander het ons met die banvloek getref.
16 Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat YAHUVEH vannag met
my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek.
17 En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van
die stamme van Israel nie? En YAHUVEH het jou as koning oor Israel gesalf.
18 En YAHUVEH het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars,
die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is.
19 Waarom het jy dan nie na die stem van YAHUVEH geluister nie en op die buit
afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van YAHUVEH?
20 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van YAHUVEH geluister en gegaan op
die pad waar YAHUVEH my op gestuur het, en Agag, die koning van Amalek, gebring;
maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref.
21 Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van
die bangoed, om aan YAHUVEH u ELOHIM in Gilgal te offer.
22 Daarop sê Samuel: Het YAHUVEH behae in brandoffers en slagoffers soos in
gehoorsaamheid aan die stem van YAHUVEH? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as
slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.
23 Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery
en beeldediens. Omdat jy die Woord van YAHUVEH verwerp het, het HY jou as koning
verwerp.
24 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van YAHUVEH en u
woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle
geluister.
25 Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek YAHUVEH kan
aanbid.
26 Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die
Woord van YAHUVEH verwerp het, en nou het YAHUVEH jou verwerp om koning oor
Israel te wees.
27 Toe Samuel hom omdraai om weg te gaan, gryp hy die slip van sy mantel, maar
dit het afgeskeur.
28 En Samuel sê vir hom: Vandag het YAHUVEH die koningskap oor Israel van jou
afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy.
29 En ook lieg die Roem van Israel nie, en HY ken geen berou nie; want HY is
geen mens, dat HY berou sou hê nie.
30 En hy sê: Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en
voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek YAHUVEH u ELOHIM kan aanbid.
31 Samuel het toe teruggegaan agter Saul aan, en Saul het YAHUVEH aanbid.
32 Daarop sê Samuel: Bring Agag, die koning van Amalek, na my toe. Terwyl Agag
dan opgeruimd na hom gaan, sê Agag: Waarlik, die bitterheid van die dood het
gewyk.
33 Maar Samuel het gesê: Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou
moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap
voor die aangesig van YAHUVEH in Gilgal.
34 Daarna gaan Samuel na Rama, en Saul het opgegaan na sy huis, na Gíbea van
Saul.
Mattheus 5:13-20
13 Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal
dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense
vertrap te word nie.
14 Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie
weggesteek word nie;
15 en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar
op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien
en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.
17 Moenie dink dat EK gekom het om die Wet of die Profete te ontbind nie. EK het
nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.
18 Want voorwaar EK sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal
nie een jota of een titteltjie van die Wet (Torah) ooit verbygaan totdat alles
gebeur het nie.
19 Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só
leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die Hemele; maar elkeen
wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die Hemele.
20 Want EK sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié
van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die
Hemele (YAHUVEH) sal ingaan nie.