Shabbat Shalom!
Shemot / Name
- hierdie week se Torah lees.


Eksodus 1:1-6:1;

1

1 En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom, elkeen met sy huisgesin:
2 Ruben, Símeon, Levi en Juda;
3 Issaskar, Sébulon en Benjamin;
4 Dan en Náftali, Gad en Aser.
5 En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele. Maar Josef was in Egipte.
6 En Josef het gesterwe, en al sy broers en daardie hele geslag.
7 Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.
8 Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie.
9 Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons.
10 Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie.
11 Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou.
12 Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel.
13 Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien
14 en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye—al dié werk wat hulle met hardheid deur hulle laat verrig het.
15 En die koning van Egipte het met die Hebreeuse vroedvroue—die een se naam was Sifra en die ander se naam Pua—gespreek
16 en gesê: As julle die Hebreeuse vroue by ‘n geboorte help, moet julle na die geboortestoel kyk: as dit ‘n seun is, maak hom dood; maar is dit ‘n dogter, laat haar lewe.
17 Maar die vroedvroue het ELOHIM gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe.
18 Toe laat die koning van Egipte die vroedvroue roep, en hy sê vir hulle: Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe?
19 En die vroedvroue sê vir Farao: Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk—voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar.
20 Maar ELOHIM het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. En die volk het vermenigvuldig en baie magtig geword.
21 En omdat die vroedvroue ELOHIM gevrees het, het HY huisgesinne aan hulle geskenk.
22 Toe gee Farao aan sy hele volk bevel en sê: Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.

*~ Exodus Hoofstuk 2 ~*


1 En ‘n man uit die huis van Levi het gegaan en ‘n dogter van Levi geneem.
2 En die vrou het swanger geword en ‘n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek.
3 Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ‘n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit.
4 En sy suster het op ‘n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur.
5 En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om ‘n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal.
6 Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was ‘n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs.
7 Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u ‘n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog?
8 En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep.
9 Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog.
10 En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek.
11 En in dié dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan en hulle harde arbeid aangesien. En hy het gesien hoe ‘n Egiptiese man ‘n Hebreeuse man, een uit sy broers, slaan.
12 En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom in die sand begrawe.
13 Die volgende dag het hy weer uitgegaan, en daar was twee Hebreeuse manne wat met mekaar veg. Hy vra toe vir die een wat ongelyk gehad het: Waarom slaan jy jou naaste?
14 En hy antwoord: Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? Dink jy om my dood te slaan soos jy die Egiptenaar omgebring het? En Moses het gevrees en gesê: Waarlik, die saak het bekend geword!
15 En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Mídian gaan woon. En hy het by ‘n put gesit.
16 En die priester van Mídian het sewe dogters gehad: dié het gekom om te put en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink.
17 Maar die veewagters het gekom en hulle weggedrywe. Toe staan Moses op en help hulle en laat hulle vee drink.
18 En toe hulle by hul vader Réhuel kom, sê hy: Waarom kom julle vandag so gou?
19 En hulle antwoord: ‘n Egiptiese man het ons uit die hand van die veewagters verlos; en hy het ook volop vir ons geput en die vee laat drink.
20 Daarop sê hy vir sy dogters: En waar is hy? Waarom het julle die man dan daar laat staan? Roep hom, dat hy brood kan eet.
21 En Moses het ingewillig om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippóra gegee.
22 En toe sy ‘n seun baar, het hy hom Gersom genoem. Want hy het gesê: Ek het ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land geword.
23 En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot ELOHIM.
24 En ELOHIM het hulle gekerm gehoor, en ELOHIM het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.
25 En ELOHIM het die kinders van Israel aangesien, en ELOHIM het hulle geken.

*~ Exodus Hoofstuk 3 ~*

1 En Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van ELOHIM, by Horeb.
2 Daarop verskyn die Engel van YAHUVEH aan hom in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!
3 En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie.
4 Toe YAHUVEH sien dat hy nuuskierig nader kom, roep ELOHIM na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek.
5 En HY sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond.
6 Verder sê Hy: EK is die ELOHIM van jou vader, die ELOHIM van Abraham, die ELOHIM van Isak en die ELOHIM van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om ELOHIM aan te sien.
7 En YAHUVEH sê: EK het duidelik gesien die ellende van MY volk wat in Egipte is; en EK het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, EK ken hulle smarte.
8 Daarom het EK neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete.
9 En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by MY gekom. Ook het EK die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk.
10 Gaan dan nou heen, dat EK jou na Farao kan stuur; en lei MY volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.
11 Maar Moses het tot ELOHIM gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?
12 En HY antwoord: EK sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat EK jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg ELOHIM dien.
13 Hierop het Moses tot ELOHIM gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die ELOHE van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is SY naam? —wat moet ek hulle antwoord?
14 En ELOHIM sê vir Moses: EK IS WAT EK IS (EHYAH ASHER EHYAH). Ook sê HY: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS (EHYAH) het my na julle gestuur.
15 Toe sê ELOHIM verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: YAHUVEH, die ELOHE van julle vaders, die ELOHE van Abraham, die ELOHE van Isak en die ELOHE van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is MY Naam vir ewig, en dit is MY gedenknaam van geslag tot geslag.
16 Gaan heen en versamel die oudstes van Israel en sê vir hulle: YAHUVEH, die ELOHE van julle vaders, het aan my verskyn, die ELOHE van Abraham, Isak en Jakob, en het gesê: EK het terdeë ag gegee op julle en op wat julle in Egipte aangedoen is.
17 Daarom het EK besluit: EK wil julle uit die ellende van Egipte laat optrek na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
18 En hulle sal na jou luister. Dan moet jy met die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan, en julle moet vir hom sê: YAHUVEH, die ELOHE van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan YAHUVEH, onse ELOHIM, offer.
19 Maar EK weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie, ook nie deur ‘n sterke hand nie.
20 En EK sal MY hand uitstrek en Egipte met al MY wonders teister wat EK daarin sal doen; en daarna sal hy julle laat trek.
21 En EK sal aan hierdie volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars; en as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie,
22 maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer— en goue voorwerpe en klere eis. En julle moet dit op julle seuns en dogters sit, en so Egipte berowe.

*~ Exodus Hoofstuk 4 ~*


1 Toe antwoord Moses en sê: Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: YAHUVEH het nie aan jou verskyn nie?
2 Daarop vra YAHUVEH vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf.
3 En HY sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het ‘n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug.
4 Toe sê YAHUVEH vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ‘n staf in sy hand geword—
5 sodat hulle kan glo dat YAHUVEH, die ELOHE van hulle vaders, die ELOHE van Abraham, die ELOHE van Isak en die ELOHE van Jakob, aan jou verskyn het.
6 En YAHUVEH het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu!
7 En HY sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees!
8 En as hulle jou nie glo en aan die eerste teken geen gehoor gee nie, dan sal hulle die laaste teken glo.
9 En as hulle ook hierdie twee tekens nie glo en na jou stem nie luister nie, neem dan van die Nyl se water en giet dit op die droë grond uit; dan sal die water wat jy uit die Nyl neem, op die droë grond bloed word.
10 Toe sê Moses aan YAHUVEH: Ag, YAHUVEH, ek is nie ‘n man van woorde nie—van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.
11 En YAHUVEH antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie EK, YAHUVEH, nie?
12 Gaan dan nou heen, en EK sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.
13 Maar hy sê: Ag, YAHUVEH, stuur tog deur wie U wil stuur.
14 Toe ontvlam die toorn van YAHUVEH teen Moses, en HY sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? EK weet dat hy goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart.
15 Jy moet dan met hom spreek en die Woorde in sy mond lê. En ÉK sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen.
16 En hy moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou ‘n mond wees en jy vir hom ‘n Magtige Een wees.
17 Neem dan hierdie staf in jou hand waarmee jy die tekens moet doen.
18 Toe gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede.
19 Ook het YAHUVEH vir Moses in Mídian gesê: Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.
20 Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op ‘n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van ELOHIM in sy hand geneem.
21 En YAHUVEH sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat EK in jou mag gestel het. Maar ÉK sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.
22 Dan moet jy vir Farao sê: So spreek YAHUVEH: MY eersgebore seun is Israel.
23 Daarom beveel EK jou: Laat MY seun trek, dat hy MY kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, EK sal jou eersgebore seun laat sterwe.
24 En op die pad in die herberg het YAHUVEH hom teëgekom en wou hom doodmaak.
25 Toe neem Sippóra ‘n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my ‘n bloedbruidegom!
26 En HY het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! —met die oog op die besnydenis.
27 YAHUVEH het ook aan Aäron gesê: Loop Moses tegemoet in die woestyn. En hy het geloop en hom by die berg van ELOHIM aangetref en hom gesoen.
28 Daarop vertel Moses aan Aäron al die Woorde van YAHUVEH waarmee HY hom gestuur het, en al die tekens wat HY hom beveel het.
29 En Moses en Aäron het vertrek en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom;
30 en Aäron het al die Woorde gespreek wat YAHUVEH aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk.
31 En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat YAHUVEH op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.

*~ Exodus Hoofstuk 5 ~*


1 En daarna gaan Moses en Aäron en sê vir Farao: So spreek YAHUVEH, die ELOHIM van Israel: Laat MY volk trek, dat hulle vir MY ‘n fees kan hou in die woestyn.
2 Maar Farao antwoord: Wie is YAHUVEH na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken YAHUVEH nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.
3 Toe sê hulle: Die ELOHIM van die Hebreërs het ons ontmoet; laat ons tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan YAHUVEH onse ELOHIM offer, sodat HY ons nie tref met die pes of die swaard nie.
4 Maar die koning van Egipte antwoord hulle: Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af? Loop na julle werk toe.
5 Verder het Farao gesê: Kyk, die volk van die land is alreeds baie; en julle wil hulle laat ophou met hulle werk?
6 Daarom het Farao dieselfde dag aan die drywers onder die volk en die opsigters bevel gegee en gesê:
7 Julle moet die volk geen strooi meer gee om bakstene te maak soos gister en eergister nie. Laat hulle self gaan en vir hulle strooi versamel.
8 Maar die hoeveelheid bakstene wat hulle gister en eergister gemaak het, moet julle hulle oplê en niks daarvan verminder nie; want hulle is lui. Daarom roep hulle en sê: Laat ons gaan, laat ons offer aan onse ELOHIM!
9 Laat die werk swaar druk op die manne, dat hulle daarmee besig kan wees en nie op leuenagtige woorde let nie.
10 Toe het die drywers van die volk en die opsigters uitgegaan en tot die volk gespreek en gesê: So spreek Farao: Ek gee julle geen strooi nie.
11 Loop haal self vir julle strooi waar julle dit kan kry; maar van julle werk word niks verminder nie.
12 Toe het die volk in die hele Egipteland rondgegaan om stoppels te versamel vir strooi.
13 En die drywers het aangedryf en gesê: Voltooi julle werk volgens die eis van elke dag net soos toe daar strooi was.
14 En die opsigters van die kinders van Israel wat Farao se drywers oor hulle aangestel het, het slae gekry, met die woorde: Waarom het julle gister en vandag nie soos tevore julle bepaalde werk, om stene te maak, volbring nie?
15 Daarom het die opsigters van die kinders van Israel gegaan, en hulle het geweeklaag by Farao en gesê: Waarom maak u so met u dienaars?
16 Aan u dienaars word geen strooi gegee nie, en hulle sê vir ons: Maak bakstene! En kyk, u dienaars word geslaan, maar die skuld lê by u volk.
17 Maar hy het geantwoord: Lui is julle, lui! Daarom sê julle: Laat ons gaan, laat ons aan YAHUVEH offer.
18 Nou dan, loop werk! Maar strooi sal julle nie gegee word nie. Ewenwel moet julle die hoeveelheid bakstene aflewer.
19 Toe sien die opsigters van die kinders van Israel dat dit sleg met hulle staan, omdat daar gesê is: Julle mag jul bakstene, volgens die eis van elke dag, nie verminder nie.
20 En hulle het Moses en Aäron teëgekom, wat daar gestaan het om hulle te ontmoet as hulle van Farao af weggaan,
21 en het vir hulle gesê: Mag YAHUVEH op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle ‘n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring.
22 Toe gaan Moses weer na YAHUVEH en sê: YAHUVEH, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur?
23 Want vandat ek na Farao gegaan het om in U Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel, en U het U volk glad nie verlos nie.
*~ Exodus Hoofstuk 6 ~*
1 Daarop het YAHUVEH Moses geantwoord: Nou sal jy sien wat EK Farao sal aandoen. Want deur ‘n sterke hand sal hy hulle laat trek, ja, deur ‘n sterke hand gedwing, sal hy hulle uit sy land uitdrywe.