27
6 In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot,
sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak.
7 Het HY hom geslaan met die slag wat sy teëstander getref het? Of is hy gedood
met ‘n slagting soos die wat deur HOM gedood is?
8 Met mate het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; HY het hom verdrywe
met SY geweldige wind op die dag van die oostewind.
9 Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug
van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde
kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie.
10 Want die versterkte stad is eensaam, ‘n woning wat ontvolk en verlate is soos
die woestyn; daar wei kalwers en daar lê hulle, en hulle eet sy takke af.
11 As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die
brand; want dit is ‘n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker HOM nie oor
hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie.
12 En in dié dag sal YAHUVEH vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af
tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o
kinders van Israel!
13 En in dié dag sal daar met ‘n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat
verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal
YAHUVEH aanbid op die heilige berg in Jerusalem.
*~ Jesaja Hoofstuk 28 ~*
1 Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat
verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle
wat deur die wyn verslaan is.
2 Kyk, YAHUVEH het een wat sterk en magtig is, soos ‘n haelstorm, ‘n storm vol
verwoesting, soos ‘n stortbui van geweldige, oorlopende waters wat teen die
grond gooi met krag.
3 Met voete sal vertrap word die trotse kroon van die dronkaards van Efraim;
4 en die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die
vrugbare dal, sal wees soos ‘n voorvy voor die vrugte-oes: iemand sien dit
skaars of, terwyl dit nog in sy hand is, sluk hy dit weg.
5 In dié dag sal YAHUVEH van die Leërskare wees tot ‘n sierlike kroon en ‘n
pragtige krans vir die oorblyfsel van SY volk,
6 en tot ‘n gees van strafgerig vir hom wat sit oor die gereg, en tot ‘n sterkte
vir hulle wat die geveg terugdring na die poort toe.
7 En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester
en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn, hulle waggel
van sterk drank, hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die
regspraak.
8 Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie.
9 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar
maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?
10 Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier
‘n bietjie, daar ‘n bietjie.
11 Ja, HY sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk
spreek,
12 HY wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit
is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie.
13 Daarom sal die Woord van YAHUVEH vir hulle wees gebod op gebod, gebod op
gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie, sodat hulle
kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.
Jesaja 29:22-23;
22 Daarom, so sê YAHUVEH tot die huis van Jakob, HY wat Abraham verlos het
(Aleph/Tav): Jakob sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig
nie meer bleek word nie;
23 want as hy, as sy kinders die werk van MY hande in sy midde sien, sal hulle
MY Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die ELOHIM van
Israel met ontsag vervul wees;
Mattheus 2:1-12;
1 En toe YAHUSHUA te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes,
het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom
2 en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het SY ster
in die Ooste gesien en gekom om HOM hulde te bewys.
3 En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met
hom;
4 en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar
laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.
5 En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die
profeet geskrywe:
6 "En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die
vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n Leidsman voortkom wat vir MY volk
Israel ‘n herder sal wees".
7 Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van
die ster se verskyning uitgevra;
8 en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na
die Kindjie, en as julle HOM vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en HOM
hulde bewys.
9 En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster
wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly
staan bo-oor die plek waar die Kindjie was.
10 En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.
11 En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en
neergeval en HOM hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir HOM
geskenke: goud en wierook en mirre.
12 En omdat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na
Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad na hul land teruggegaan.