Shabbat Shalom!
Mishpatim / Wette
- hierdie week se Torah lees.


Exodus 21:1-24:18;

21

1 En dit is die verordeninge wat jy hulle moet voorhou:
2 As jy ‘n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan.
3 As hy alleen kom, moet hy alleen vrygelaat word; as hy getroud is, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word.
4 As sy heer aan hom ‘n vrou gee en sy vir hom seuns of dogters baar, moet die vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees, terwyl hy alleen vrygelaat word.
5 Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie—
6 dan moet sy heer hom na ELOHIM bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ‘n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.
7 En as iemand sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie soos die slawe weggaan nie.
8 As sy haar heer nie beval nie wat haar vir homself bestem het, moet hy haar laat loskoop. Hy is nie geregtig om haar aan ‘n vreemde volk te verkoop nie, omdat hy troueloos met haar gehandel het.
9 Maar as hy haar vir sy seun bestem, moet hy met haar handel volgens die reg van die dogters;
10 as hy vir hom ‘n ander een neem, mag hy haar voedsel, haar klere en haar huweliksgemeenskap nie verminder nie.
11 En as hy hierdie drie dinge nie vir haar doen nie, kan sy verniet weggaan, sonder geld.
12 Hy wat ‘n mens slaan, dat hy sterwe, moet sekerlik gedood word.
13 Maar as hy dit daar nie op toegelê het nie, maar ELOHIM dit sy hand laat ontmoet het, dan sal EK jou ‘n plek aanwys waarheen hy kan vlug.
14 Maar as iemand moedswillig teen sy naaste handel, om hom met lis dood te maak, moet jy hom van MY altaar af wegneem, om te sterwe.
15 En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word.
16 En hy wat ‘n mens steel en hom verkoop—of as hy in sy besit gevind word—dié moet sekerlik gedood word.
17 En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.
18 En as manne twis en die een die ander slaan met ‘n klip of met die vuis, sodat hy nie sterwe nie, maar bedlêend word—
19 as hy weer opstaan en buite met sy stok rondloop, moet hy wat geslaan het, ongestraf bly; net sy tydverlies moet hy vergoed en sorg dat hy heeltemal gesond word.
20 En as iemand sy slaaf of slavin met ‘n stok slaan, dat dié onder sy hand sterwe, moet dit sekerlik gewreek word.
21 Maar as hy ná een of twee dae nog lewe, moet dit nie gewreek word nie, want hy is sy eiendom.
22 En as manne met mekaar veg en ‘n swanger vrou so stamp dat haar vrug afgaan, maar daar geen ander letsel is nie, moet hy sekerlik boete betaal soos die man van die vrou hom dit oplê, en hy moet dit deur skeidsregters gee.
23 Maar is daar ‘n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe,
24 oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,
25 brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.
26 En as iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan en hy dit beskadig, moet hy hom vry laat weggaan vir sy oog.
27 En as hy die tand van sy slaaf of die tand van sy slavin uitslaan, moet hy hom vry laat weggaan vir sy tand.
28 En as ‘n bees ‘n man of ‘n vrou stoot, sodat hy sterwe, moet die bees sekerlik gestenig word; en sy vleis mag nie geëet word nie, maar die baas van die bees sal ongestraf bly.
29 Maar as die bees tevore al stoterig gewees het en sy baas gewaarsku was, maar dit nie opgepas het nie, en dit ‘n man of ‘n vrou doodmaak, moet die bees gestenig word, en sy baas moet ook gedood word.
30 As aan hom losgeld opgelê word, moet hy vir die lossing van sy lewe alles gee wat hom opgelê word.
31 Of dit ‘n seun gestoot het of ‘n dogter, volgens hierdie reg moet met hom gehandel word.
32 As die bees ‘n slaaf of slavin stoot, moet hy aan hulle heer dertig sikkels silwer gee, en die bees moet gestenig word.
33 En as iemand ‘n put oopmaak, of as iemand ‘n put grawe en dit nie toemaak nie, en ‘n bees of esel val daarin,
34 moet die eienaar van die put vergoeding gee: hy moet aan die eienaar van die dier geld gee, maar die dooie dier moet syne wees.
35 En as iemand se bees die bees van ‘n ander stoot, sodat dit sterwe, moet hulle die lewendige bees verkoop en die geld daarvan verdeel; en die dooie een moet hulle ook verdeel.
36 Of as dit bekend was dat die bees tevore al stoterig gewees het, en sy baas dit nie opgepas het nie, moet hy ten volle bees vir bees vergoed; maar die dooie een moet syne wees.

*~ Exodus Hoofstuk 22 ~*


1 As iemand ‘n bees of ‘n stuk kleinvee steel en dit slag of verkoop, moet hy vyf beeste vir ‘n bees vergoed en vier stuks kleinvee vir ‘n stuk kleinvee.
2 As ‘n dief betrap word terwyl hy inbreek, en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie;
3 as die son oor hom opgegaan het, ontstaan daardeur bloedskuld. Hy moet ten volle vergoeding gee; as hy niks het nie, moet hy vir sy diefstal verkoop word.
4 As die gesteelde goed—of dit ‘n bees, ‘n esel of ‘n stuk kleinvee is—nog lewendig in sy besit gevind word, moet hy dubbel vergoeding gee.
5 As iemand ‘n stuk veld of ‘n wingerd laat afwei en sy vee vry laat loop, sodat dit in die veld van ‘n ander wei, moet hy van die beste van sy veld en die beste van sy wingerd as vergoeding gee.
6 As ‘n vuur uitbreek en die dorings vat, sodat ‘n mied of die ongesnyde graan of die veld verteer word, moet hy wat die vuur aan die brand gesteek het, ten volle vergoeding gee.
7 As iemand aan sy naaste geld of goed in bewaring gee, en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief, as hy uitgevind word, dubbel vergoeding gee.
8 As die dief nie uitgevind word nie, moet die eienaar van die huis na ELOHIM gaan om te beslis of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie.
9 By alle sake van ontvreemding, of dit gaan oor ‘n bees, oor ‘n esel, oor kleinvee, oor klere of oor enigiets wat verloor is, waarvan iemand sê: Dit is myne! —moet die saak van altwee voor ELOHIM kom; die een wat ELOHIM skuldig verklaar, moet aan sy naaste dubbel vergoeding gee.
10 As iemand aan sy naaste ‘n esel of bees of stuk kleinvee of enige dier gee om op te pas, en dit gaan dood of kry ‘n ongeluk of word weggevoer sonder dat iemand dit sien,
11 dan moet die eed by YAHUVEH tussen hulle twee beslis, of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie; en die eienaar moet daarmee tevrede wees, en die ander hoef geen vergoeding te gee nie.
12 Maar as dit van hom weggesteel is, moet hy aan die eienaar vergoeding gee.
13 As dit verskeur is, moet hy dit as bewys bring; wat verskeur is, hoef hy nie te vergoed nie.
14 En as iemand van sy naaste iets te leen vra, en dit kry ‘n ongeluk of gaan dood terwyl die eienaar daar nie by is nie, moet hy ten volle vergoeding gee.
15 As die eienaar daarby gewees het, hoef hy geen vergoeding te gee nie. As dit gehuur was, kom die huurgeld daarvoor.
16 As iemand ‘n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en met haar gemeenskap het, moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop.
17 As haar vader beslis weier om haar aan hom te gee, moet hy geld gee volgens die huweliksprys vir jongmeisies.
18 Die towerheks mag jy nie laat lewe nie.
19 Elkeen wat met ‘n dier gemeenskap het, moet sekerlik gedood word.
20 Hy wat aan die gode offer, behalwe aan YAHUVEH alleen, moet met die banvloek getref word.
21 Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland.
22 Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie.
23 As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal EK, as hulle na MY roep, hulle geroep sekerlik hoor.
24 en MY toorn sal ontvlam, en EK sal julle met die swaard ombring, sodat julle vroue weduwees en julle kinders wese word.
25 As jy aan MY volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ‘n skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie.
26 As jy ooit jou naaste se gewaad as pand neem, moet jy hom dit teruggee voor die son ondergaan;
27 want dit is sy enigste bedekking, dit is die bekleding vir sy vel. Waarin moet hy anders slaap? En as hy na MY roep, sal EK hoor, want EK is genadig.
28 Jy mag ELOHIM nie vloek nie, en ‘n owerste onder jou volk mag jy nie verwens nie.
29 Die offer uit jou volle opbrings en jou parskuip mag jy nie terughou nie. Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan MY gee.
30 Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee: sewe dae moet dit by sy moeder wees; op die agtste dag moet jy dit aan MY gee.
31 En julle moet vir MY heilige mense wees. Daarom mag julle nie vleis eet wat in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gooi.

*~ Exodus Hoofstuk 23 ~*


1 Jy mag geen valse gerug rondstrooi nie. Verbind jou nie met die skuldige om ‘n kwaadwillige getuie te wees nie.
2 Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ‘n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.
3 Ook mag jy die geringe nie voortrek in sy regsaak nie.
4 As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir hom terugbring.
5 As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie: jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai.
6 Jy mag die reg van jou arm mense in hulle regsaak nie verdraai nie.
7 Hou jou ver van valse sake af. En moenie die onskuldige en die wat reg het, ombring nie, want Ek sal die skuldige nie regverdig verklaar nie.
8 Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van die regverdiges.
9 Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.
10 En ses jaar lank moet jy jou land besaai en die opbrings daarvan insamel;
11 maar in die sewende moet jy dit ongebruik en braak laat lê, dat die arm mense van jou volk kan eet; en wat hulle laat oorbly, kan die diere van die veld opeet. So moet jy doen met jou wingerd en jou olyfbome.
12 Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem skep.
13 En in alles wat EK julle gesê het, moet julle jul in ag neem. En die naam van ander elohim mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie.
14 Drie maal in die jaar moet jy vir MY ‘n fees hou.
15 Die Fees van die Ongesuurde Brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos EK jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek—maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie;
16 verder die Fees van die Oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die Fees van die Insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel.
17 Drie maal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here YAHUVEH verskyn.
18 Jy mag die bloed van MY offer nie saam met gesuurde brood offer nie. Ook mag die vet van MY feesoffer nie tot die môre toe oorbly nie.
19 Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van YAHUVEH jou ELOHIM bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.
20 Kyk, EK stuur ‘n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat EK gereedgemaak het.
21 Neem jou in ag vir HOM en luister na SY stem; wees nie wederstrewig teen HOM nie; want HY sal julle oortreding nie vergewe nie, want MY Naam is in HOM.
22 Maar as jy terdeë na SY stem luister en alles doen wat EK sal sê, sal EK die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.
23 Want MY Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en EK sal hulle vernietig.
24 Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan.
25 En julle moet YAHUVEH julle ELOHIM dien; dan sal HY jou brood en jou water seën, en EK sal siektes uit jou midde verwyder.
26 Daar sal geen misdragtige of onvrugbare in jou land wees nie. EK sal die getal van jou dae vol maak.
27 EK sal MY skrik voor jou uit stuur en elke volk waarby jy kom, in verwarring bring. En EK sal al jou vyande vir jou laat vlug.
28 Ook sal EK perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit verdrywe.
29 EK sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie.
30 EK sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe.
31 En EK sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want EK sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe.
32 Jy mag met hulle of met hulle elohim geen verbond maak nie.
33 Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen MY te sondig nie. Want jy sal hulle elohim dien, ja, dit sal vir jou ‘n strik wees.

*~ Exodus Hoofstuk 24 ~*


1 Daarna het HY vir Moses gesê: Klim na YAHUVEH toe op, jy en Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel, en buig julle neer van ver af.
2 En laat Moses alleen nader kom na YAHUVEH toe, maar hulle moet nie nader kom nie; en die volk mag nie saam met hom opklim nie.
3 Toe Moses kom en aan die volk al die Woorde van YAHUVEH en al die Verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die Woorde wat YAHUVEH gespreek het, sal ons doen.
4 En Moses het al die Woorde van YAHUVEH opgeskrywe en die môre vroeg hom klaargemaak en onder die berg ‘n altaar gebou, en twaalf gedenkstene volgens die twaalf stamme van Israel.
5 En hy het jongmanne van die kinders van Israel gestuur; dié het brandoffers geoffer en as dankoffers bulle vir YAHUVEH geslag.
6 En Moses het die helfte van die bloed geneem en dit in komme gegooi en die helfte van die bloed teen die altaar uitgegooi.
7 En hy het die Boek van die Verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat YAHUVEH gespreek het, sal ons doen en daarna luister.
8 Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die Verbond wat YAHUVEH met julle gesluit het op grond van al hierdie Woorde.
9 Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel.
10 En hulle het die YAHUVEH van Israel gesien, en onder SY voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self.
11 Maar HY het SY hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het ELOHIM aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink.
12 Toe sê YAHUVEH vir Moses: Klim op die berg na MY toe en vertoef daar, dat EK jou die kliptafels kan gee en die wet en gebooie wat EK geskryf het om hulle te onderrig.
13 Hierop het Moses klaargemaak en Josua, sy dienaar. En Moses het op die berg van ELOHIM geklim
14 en aan die oudstes gesê: Wag hier vir ons tot ons na julle terugkom. En kyk, Aäron en Hur is by julle; wie regsake het, kan na hulle gaan.
15 Toe Moses die berg opklim, het ‘n wolk die berg oordek.
16 En die heerlikheid van YAHUVEH het op die berg Sinai gebly, en die wolk het dit ses dae lank oordek. En op die sewende dag het HY na Moses geroep uit die wolk.
17 En die verskyning van YAHUVEH se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg.
18 En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op die berg veertig dae en veertig nagte.