Shabbat Shalom!
Bo / Kom
- hierdie week se Torah lees.


Exodus 10:1–13:16;

10

1 Verder het YAHUVEH vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want ÉK het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat EK hierdie tekens van MY onder hulle kan verrig,
2 en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat EK Egipte aangedoen het, en MY tekens wat EK onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat EK YAHUVEH is.
3 Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek YAHUVEH, die ELOHE van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor MY te verootmoedig? Laat MY volk trek, dat hulle MY kan dien.
4 Want as jy weier om MY volk te laat trek, kyk, dan bring EK môre sprinkane in jou grondgebied,
5 en hulle sal die oppervlakte van die land oordek, sodat ‘n mens die land nie sal kan sien nie. En hulle sal die oorblyfsel afeet van wat gered is, wat vir julle van die hael oorgebly het; en al die bome wat vir julle uit die veld opgroei, sal hulle afeet.
6 En jou huise en die huise van al jou dienaars en die huise van al die Egiptenaars sal vol van hulle wees—soos jou vaders en die vaders van jou vaders nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde gewees het tot vandag toe nie. Daarop het hy omgedraai en van Farao af weggegaan.
7 Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle YAHUVEH hulle ELOHIM kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie?
8 Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien YAHUVEH julle ELOHIM. Wie is dit eintlik wat wil gaan?
9 En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ‘n fees vir YAHUVEH hou.
10 Toe sê hy vir hulle: Mag YAHUVEH só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ‘n verkeerde ding voor oë.
11 Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien YAHUVEH, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe.
12 Toe sê YAHUVEH vir Moses: Steek jou hand uit oor Egipteland vanweë die sprinkane, dat hulle opkom oor Egipteland en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het.
13 En Moses het sy staf oor Egipteland uitgesteek, en YAHUVEH het ‘n oostewind in die land gebring, daardie hele dag en die hele nag; toe dit môre word, het die oostewind die sprinkane aangevoer:
14 die sprinkane het opgekom oor die hele Egipteland en in die hele gebied van Egipte gaan sit, ‘n baie groot menigte—tevore was daar so ‘n sprinkaanswerm nie gewees nie, en daarna sal so iets nie weer voorkom nie.
15 En hulle het die oppervlakte van die hele land bedek, sodat die land swart was; en hulle het al die plante van die land opgeëet en al die vrugte van die bome wat die hael laat oorbly het—daar het geen groenigheid aan die bome of plante van die veld in die hele Egipteland oorgebly nie.
16 Toe het Farao gou vir Moses en Aäron laat roep en gesê: Ek het gesondig teen YAHUVEH julle ELOHIM en teen julle.
17 Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde, en bid tot YAHUVEH julle ELOHIM, dat HY net hierdie dood van my af wegneem.
18 En hy het van Farao af weggegaan en tot YAHUVEH gebid.
19 Daarop laat YAHUVEH die wind omslaan in ‘n baie sterk westewind; dié het die sprinkane opgetel en hulle in die Skelfsee gedrywe. Daar het nie een sprinkaan in die hele gebied van Egipte oorgebly nie.
20 Maar YAHUVEH het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek het nie.
21 Verder het YAHUVEH vir Moses gesê: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal duisternis oor Egipteland kom, sodat ‘n mens die duisternis kan gryp.
22 Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar ‘n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank.
23 Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad.
24 Toe het Farao Moses laat roep en gesê: Gaan heen, dien YAHUVEH; net julle kleinvee en julle beeste moet agtergehou word. Selfs julle kinders kan met julle saamgaan.
25 Maar Moses antwoord: U moet self ook slagoffers en brandoffers met ons saam gee, dat ons dit aan YAHUVEH onse ELOHIM kan aanbied.
26 En ons vee moet ook met ons saamgaan: daar mag geen klou agterbly nie! Want daarvan moet ons neem om YAHUVEH onse ELOHIM te dien. En ons weet nie waarmee ons YAHUVEH onse ELOHIM sal dien voordat ons daar kom nie.
27 Maar YAHUVEH het Farao se hart verhard, en hy wou hulle nie laat trek nie.
28 Maar Farao sê vir hom: Gaan weg van my af! Pas op dat jy my aangesig nie weer sien nie; want die dag as jy my aangesig sien, sal jy sterwe.
29 En Moses antwoord: U het reg gepraat. Ek sal u aangesig nie weer sien nie.

*~ Exodus Hoofstuk 11 ~*


1 Verder het YAHUVEH vir Moses gesê: Nog een plaag sal EK oor Farao en oor Egipte bring. Daarna sal hy julle hiervandaan laat trek. As hy julle geheel en al laat trek, sal hy julle selfs hiervandaan wegdrywe.
2 Sê tog voor die ore van die volk dat elke man van sy naaste en elke vrou van haar naaste silwergoed en goue goed moet eis.
3 En YAHUVEH het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars. Ook was die man Moses baie groot in Egipteland, in die oë van Farao se dienaars en in die oë van die volk.
4 Toe sê Moses: So het YAHUVEH gespreek: Omtrent middernag trek EK uit dwarsdeur Egipte;
5 dan sal al die eersgeborenes in Egipteland sterwe, van Farao se eersgeborene af wat op sy troon sit, tot die eersgeborene van die slavin agter die handmeul en al die eersgeborenes van die vee.
6 En daar sal ‘n groot gejammer in die hele Egipteland wees soos daar nie gewees het en soos daar nie weer sal wees nie.
7 Maar teen geeneen van die kinders van Israel sal ‘n hond sy tong verroer nie, van die mense af tot die diere toe, dat julle kan weet dat YAHUVEH ‘n onderskeid maak tussen die Egiptenaars en die Israeliete.
8 Dan sal al hierdie dienaars van u na my toe afkom en voor my neerbuig en sê: Trek uit, jy en die hele volk wat jou volg. En daarna sal ek uittrek. Toe het hy van Farao af weggegaan in gloeiende toorn.
9 En YAHUVEH het vir Moses gesê: Farao sal na julle nie luister nie, sodat my wonders in Egipteland baie kan word.
10 En Moses en Aäron het al hierdie wonders voor Farao gedoen. Maar YAHUVEH het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie uit sy land laat trek het nie.

*~ Exodus Hoofstuk 12 ~*

1 En YAHUVEH het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê:
2 Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees.
3 Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin.
4 Maar as ‘n huisgesin te klein is vir ‘n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken.
5 Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem.
6 En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.
7 En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.
8 En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet.
9 Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed.
10 Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand.
11 En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pasga van YAHUVEH is dit.
12 Want EK sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En EK sal strafgerigte oefen aan al die Elohe van Egipte, EK, YAHUVEH.
13 Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as EK die bloed sien, sal EK by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer EK Egipteland tref nie.
14 En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van YAHUVEH vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier.
15 Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word.
16 En op die eerste dag moet daar ‘n Heilige Samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle ‘n Heilige Samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word.
17 Onderhou dan die ongesuurde brode, want op daardie selfde dag het EK julle leërs uit Egipteland uitgelei. Daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ‘n ewige insetting hou.
18 In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een en twintigste dag van die maand, in die aand.
19 Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie. Want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié siel moet uit die vergadering van Israel uitgeroei word, of hy al ‘n vreemdeling is of ‘n kind van die land.
20 Julle mag niks eet met suurdeeg in nie. In al julle woonplekke moet julle ongesuurde brode eet.
21 Moses het toe al die oudstes van Israel laat roep en aan hulle gesê: Gaan haal vir julle kleinvee vir julle families en slag die pasga.
22 En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie.
23 Want YAHUVEH sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer HY die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal YAHUVEH by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie.
24 Onderhou dan hierdie saak as ‘n insetting vir jou en jou kinders tot in ewigheid.
25 En as julle in die land kom wat YAHUVEH aan julle sal gee soos HY beloof het, moet julle hierdie diens onderhou.
26 En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar?
27 dan moet julle sê: Dit is ‘n paasoffer aan YAHUVEH, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe HY die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig.
28 En die kinders van Israel het gegaan en dit gedoen. Soos YAHUVEH Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.
29 En middernag het YAHUVEH al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere.
30 Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was ‘n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie.
31 Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien YAHUVEH soos julle gespreek het.
32 Neem ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gespreek het, en gaan weg en seën my ook.
33 En die Egiptenaars het by die volk sterk aangehou—om hulle gou uit die land uit te stuur. Want hulle het gesê: Ons is almal dood!
34 Toe neem die volk hulle deeg voordat dit ingesuur was, met hulle bakskottels, in hulle mantels toegebind, op die skouers.
35 En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis;
36 en YAHUVEH het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe.
37 En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent ses honderd duisend te voet, die manne buiten die kinders.
38 En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste—’n groot hoeveelheid vee.
39 En hulle het van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, ongesuurde koeke gebak; want dit was nie ingesuur nie, omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie.
40 En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vier honderd en dertig jaar.
41 En ná verloop van vier honderd en dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van YAHUVEH uit Egipteland uitgetrek.
42 Dit is ‘n nag om plegtig onderhou te word tot eer van YAHUVEH, omdat HY hulle uit Egipteland uitgelei het. Dit is dié nag van YAHUVEH om plegtig onderhou te word by al die kinders van Israel in hulle geslagte. (Ex 16:1)
43 Verder het YAHUVEH aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie.
44 Maar elke slaaf wat ‘n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet.
45 Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie.
46 In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie.
47 Die hele vergadering van Israel moet dit hou.
48 En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van YAHUVEH die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie.
49 Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef.
50 En al die kinders van Israel het dit gedoen. Soos YAHUVEH Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.
51 En op daardie selfde dag het YAHUVEH die kinders van Israel, volgens hulle leërafdelings, uit Egipteland uitgelei.

*~ Exodus Hoofstuk 13 ~*


1 Toe het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Heilig vir MY al die eersgeborenes. Alles wat die moederskoot open onder die kinders van Israel, van mense en van diere, dit is MYNE.
3 Verder het Moses aan die volk gesê: Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgegaan het; want YAHUVEH het julle deur ‘n sterke hand hiervandaan uitgelei; daarom mag geen gesuurde brood geëet word nie.
4 Vandag trek julle uit, in die maand Abib.
5 En as YAHUVEH jou bring in die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Hewiete en Jebusiete, wat HY aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning, dan moet jy hierdie diens in hierdie maand onderhou.
6 Sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet, en op die sewende dag is daar fees tot eer van YAHUVEH.
7 Ongesuurde brode moet die sewe dae geëet word: by jou mag geen gesuurde brood gesien word nie, en geen suurdeeg mag by jou in jou hele grondgebied gesien word nie.
8 En jy moet jou seun op dié dag vertel en sê: Dit geskied ter wille van wat YAHUVEH aan my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het.
9 En dit moet vir jou as ‘n teken wees op jou hand en ‘n gedenkteken tussen jou oë, sodat die wet van YAHUVEH in jou mond mag wees; want deur ‘n sterke hand het YAHUVEH jou uit Egipte uitgelei.
10 Daarom moet jy hierdie insetting onderhou op die daarvoor bepaalde tyd, van jaar tot jaar.
11 En as YAHUVEH jou in die land van die Kanaäniete bring, soos HY aan jou en jou vaders met ‘n eed beloof het, en HY dit aan jou gee,
12 dan moet jy alles wat die moederskoot open, aan YAHUVEH afgee; ook elke eersteling, die aanteel van vee, wat jy sal hê—wat manlik is, behoort aan YAHUVEH.
13 Maar elke eersteling van ‘n esel moet jy met ‘n lam loskoop. En as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Maar al die eersgeborenes van mense onder jou seuns moet jy loskoop.
14 En as jou seun jou later vra en sê: Wat beteken dit? dan moet jy hom antwoord: YAHUVEH het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei.
15 Want toe Farao swarigheid gemaak het om ons te laat trek, het YAHUVEH al die eersgeborenes in Egipteland gedood, van die eersgeborene van die mense af tot die eersgeborene van die diere toe. Daarom offer ek aan YAHUVEH alles wat die moederskoot open wat manlik is; maar al die eersgeborenes van my seuns koop ek los.
16 En dit sal as ‘n teken wees op jou hand en ‘n voorhoofsband tussen jou oë; want YAHUVEH het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte uitgelei.