Shabbat Shalom!
Vayakhel / En Hy Het Saamgestel
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Esegiël 36:16-38;

36

16 Verder het die Woord van YAHUVEH tot my gekom en gesê:
17 Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig met hul wandel en met hul handelinge; hulle wandel was voor MY aangesig soos die besoedeling van die maandelikse onreinheid.
18 Daarom het EK MY grimmigheid oor hulle uitgegiet, vanweë die bloed wat hulle in die land vergiet het, terwyl hulle dit met hul drekgode verontreinig het.
19 En EK het hulle verstrooi onder die nasies en hulle is versprei in die lande; EK het hulle geoordeel volgens hul wandel en hul handelinge.
20 En toe hulle by die nasies kom waarheen hulle getrek het, het hulle MY heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van YAHUVEH, en hulle moes uit SY land uittrek.
21 Toe het dit MY ter harte gegaan om MY heilige Naam ontwil wat die huis van Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het.
22 Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here YAHUVEH: EK doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van MY heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het.
23 En EK sal MY grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat EK YAHUVEH is, spreek die Here YAHUVEH, as EK MY in julle voor hul oë as die Heilige laat ken.
24 En EK sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en EK sal julle in jul land bring.
25 Dan sal EK skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal EK julle reinig.
26 En EK sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en EK sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.
27 En EK sal MY Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in MY insettinge wandel en MY verordeninge onderhou en doen.
28 En julle sal woon in die land wat EK aan jul vaders gegee het; en julle sal vir MY ‘n volk en EK sal vir julle ‘n ELOHIM wees.
29 En EK sal julle verlos van al jul onreinhede; en EK sal roep na die koring en dit vermenigvuldig, en EK sal geen hongersnood op julle lê nie.
30 En EK sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig, sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies nie.
31 Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels.
32 EK doen dit nie om julle ontwil nie, spreek die Here YAHUVEH; laat dit julle bekend wees! Skaam julle en bloos oor jul weë, o huis van Israel.
33 So sê die Here YAHUVEH: In die dag as EK julle reinig van al jul ongeregtighede, sal EK die stede laat bewoon, en die puinhope sal opgebou word.
34 En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit ‘n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan.
35 En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon.
36 Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat EK, YAHUVEH, opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; EK, YAHUVEH, het dit gespreek en sal dit doen.
37 So sê die Here YAHUVEH: Ook dit sal EK MY laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: EK sal hulle mense vermenigvuldig soos skape.
38 Soos die geheiligde skape, soos die skape van Jerusalem op sy feestye, so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat EK YAHUVEH is.

1 Korinthiërs 3:11-18


11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is YAHUSHUA MESSIAS.
12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van ELOHIM is en die Gees van ELOHIM in julle woon nie?
17 As iemand die tempel van ELOHIM skend, sal ELOHIM hom skend; want die tempel van ELOHIM is heilig, en dit is julle.
18 Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word;

2 Korinthiërs 9:6-11


6 Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.
7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want ELOHIM het ‘n blymoedige gewer lief.
8 En ELOHIM het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.
9 Soos geskrywe is: HY het uitgestrooi, HY het aan die armes gegee, SY geregtigheid bly tot in ewigheid.
10 En mag HY wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem,
11 sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan ELOHIM deur ons bewerk.